Die VF Plus beskou die aanranding op die speaker van die Tshwane-metroraad, dr. Murunwa Makwarela, in ‘n ernstige lig en het vandag die speaker vergesel om ‘n klag van aanranding by die Brooklyn-polisiekantoor aanhangig gemaak het.
Die VF Plus, as deel van die koalisie-regering in die Tshwane-metro, stem saam met die speaker dat raadslede ‘n keuse het om raadsvergaderings aanlyn by te woon.
Hierdie is die tweede vergadering waar chaos uitgebreek het nadat die ANC en EFF ‘n raadsvergadering ontwrig het. Die vergadering van 31 Oktober moes juis daarom uitgestel word tot 16 November.
Die VF Plus is van mening dat die ANC-raadslede se doel agter die ontwrigting is om te verhinder dat die metroraad toestemming gee om ‘n oortrokke gerief te hernu.
Met dié stap wou hulle bewerkstellig dat die metro finansieel nie die mas kan opkom nie.
Sulke onaanvaarbare gedrag kan nie toegelaat word nie.
Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om te help om Tshwane in ‘n vooruitstrewende metro te omskep tot voordeel van al sy inwoners.