Wouter Wessels is Vrydag as die VF Plus se nuwe parlementslid in die plek van dr. Pieter Mulder aangewys.
Mulder het Donderdag, na byna dertig jaar as parlementslid, sy uitrede aangekondig.
Wessels, voorheen lid van die Vrystaatse provinsiale wetgewer, is 32 jaar oud en is die afgelope twaalf jaar aktief in partypolitiek betrokke.
"Ek is opgewonde om deel van die VF Plus se parlementêre span te wees en saam met hul te werk om 'n verskil in SA teweeg te bring"
Hy is vier jaar gelede tot die Vrystaatse Provinsiale Wetgewer (LPW) verkies waar hy die VF Plus tot op hede verteenwoordig het.
"Dit is 'n bittersoet dag. Meer bitter as soet,"het Wessels kort na die aankondiging by die VF Pluse se parlementêre kantoor in Kaapstad gesê.
"Dit is hartseer om 'n legendariese veteraan-politikus te groet. Dr. Mulder is my mentor en ek het ontsaglik baie respek vir hom."
Wessels sê egter hy is opgewonde om deel van die VF Plus se parlementêre span te wees en saam met hulle te werk om 'n verskil in SA teweeg te bring.
Hy was lid van vyf portefeuljekomitees in die wetgewer waar hy veral gefokus het op sy rol as lid van die provinsiale openbare rekeninge-komitee om daar ‘n bydra te lewer om die finansiële bestuur van provinsiale departemente en munisipaliteite te verbeter en om amptenary aanspreeklik te hou vir korrupsie en wanbestuur.
Hy was van 2009 tot en met sy verkiesing as LPW die privaatsekretaris van die voormalige adjunkminister van landbou, bosbou en visserye, dr. Pieter Mulder. Hy het in daardie tyd intensief saam met dr. Mulder gewerk en kon sodoende daagliks by hom leer.
Wessels is in Oos-Londen gebore en het aan die Hoërskool Grens gematrikuleer. Hy het aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer waar hy ‘n aktiewe rol in studenteleierskap gespeel het.
Hy was vir vyf jaar die nasionale jeugleier van die VF Plus en is ‘n kampvegter vir gelyke geleenthede vir die jeug van Suid-Afrika en teen die marginalisering van veral jongmense as gevolg van hul velkleur.
Hy is tans lid van die VF Plus se federale raad, federale dagbestuur en uitvoerende dagbestuur. Hy is ook die voorsitter van die party se strategiekomitee en tree op as politieke hoof van die media-eenheid van die party.
Tydens die 2014- en 2016-verkiesings het hy opgetree as nasionale verkiesingskoördineerder. Hy was ook nou betrokke by die herloodsing van die VF Plus in 2013.
Wessels is ook kundig op tegnologiese gebied en was verantwoordelik vir etlike tegnologiese ontwikkelinge wat die party se verkiesingsveldtogte betref.