"Handelsverdrae tussen Suid-Afrika en lande in Afrika en oorsee, kan ernstig in die gedrang kom weens die skadelike en ondeurdagte beleidsrigting van die ANC," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van handel en nywerheid.
"Die Amerikaanse regering het pas aangekondig dat die belastingvrye invoer van sekere Suid-Afrikaanse produkte na Amerika hersien gaan word weens kommer oor die omstrede Wysigingswetsontwerp op Kopiereg.
"Luidens mediaberigte het Amerika se handelsverteenwoordiger aangekondig dat Suid-Afrika se status om in aanmerking te kom vir voorkeurhandel hersien sal word weens die wyse waarop die land omgaan met die beskerming van intellektuele eiendom.
‘n Veel groter bedreiging vir bestaande handelsooreenkomste is die beoogde verandering aan Artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.
"Die VF Plus voorsien dat dit groot skade kan aanrig met betrekking tot buitelandse handelsverdrae.
"Die pas aangekondigde optrede van Amerika moet ook geen twyfel laat oor die feit dat die buiteland en Amerika in die besonder, gebeure in Suid-Afrika met ‘n vergrootglas dophou nie.
"Amerika gebruik voorkeurprogramme om veral ontwikkelende lande te help om makliker toegang tot sy mark te verkry en maak voorsiening vir die belastingvrye invoer van sekere goedere," sê Mulder.