fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Mediumtermyn-begrotingsraamwerk: Suid-Afrika in werklike finansiële krisis

"Suid-Afrika sit in ‘n wesenlike finansiële krisis en alhoewel die mediumtermyn-begrotingsraamwerk ‘n belangrike geleentheid is om te herprioritiseer om huidige krisisse aan te spreek, sal dit niks doen aan die ware probleem van beleidsonsekerheid wat die maaksel van die ANC-regering is nie," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwordvoerder van finansies.

"Van die probleme wat dadelik aandag sal moet kry, is die knellende droogte en toenemende waterskaarste in die land waar geld nodig is vir infrastruktuur soos damme en reservoirs. Geld is ook nodig vir hulp aan landbouers in droogte-rampgebiede.

 

"Openbare ondernemings plaas ‘n groot en onnodige las op die fiskus. Dié ondernemings is tans net swart gate waarin belastinggeld sonder enige sigbare voordeel of verbetering verdwyn."

 

"Die omkeerplan wat minister Pravin Gordhan vandag vir Eskom aangekondig het, sal geen onmiddellik effek op die huidige krisis hê nie. Die uitstaande skuld aan Eskom sal nie oornag betaal kan word nie aangesien munisipaliteite bankrot is.

"Daar is geen ander oplossing as om Eskom te privatiseer en te dereguleer om sodoende toe te sien dat markkragte kan meewerk tot gesonde kompetisie en kragvoorsiening nie.

 

"Beide die ministers van openbare ondernemings en finansies word gyselaar gehou deur hul party se ideologie, alliansievennote en vakbonde wat weier om in te stem tot ongewilde besluite wat geneem moet word om herstel te bewerkstellig."

 

"Hierdie besluite behels onder meer die staat se salarisrekening, die aflegging van oorbodige personeel en ‘n moratorium op salarisverhogings asook privatisering en deregulering.

"Die mag van die vakbonde oor die regering en die uitwerking daarvan op die ekonomie hou die hele Suid-Afrika gyselaar. Daar is ‘n werklike rigtingverandering nodig om aan hierdie doodloopstraat te ontsnap en die begrotingsraamwerk is die geleentheid om hierdie koersverandering teweeg te bring.

"Dit is duidelik dat die minister min beweegruimte het om die begroting te balanseer. Dit raak ook duidelik dat daar ‘n stewige tekort aan belasting-inkomste gaan wees.

"Groot ondernemings het bloot nie genoeg vertroue in Suid-Afrika om te belê om sodoende die belastingbasis te verbreed nie. Hierdie gebrek aan vertroue kan net deur beleidsekerheid herstel word en die ANC is duidelik nie in staat om dit te bewerkstellig nie," sê Wessels.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.