Die regering se plan om die Vanderkloofdam na oud-president Nelson Mandela te vernoem, sal aktief deur die VF Plus teengestaan word.
"Dit is niks minder nie as diefstal van die geskiedenis," sê dr Wynand Bshoff, VF Plus-leier in die Noord-Kaap.
Dié dam, die tweede grootste in Suid-Afrika, is eers na die destydse minister van waterwese, PK le Roux, vernoem.
Boshoff sê dit was nie 'n ydele verering nie, maar erkenning vir Le Roux se reuse werk om die verbeeldingryke Oranjerivier-besproeiingskema ‘n werklikheid te maak.
"Dit kan sonder vrees vir teenspraak gesê word dat die vernietigende droogtes van die afgelope paar jaar 'n veel groter impak sou gehad het, as versiende leiers nie reeds in die jare sestig met hierdie skema begin het nie.
"Die grootste dam in die skema en in Suid-Afrika, is destyds na HF Verwoerd genoem, omdat hy die dryfkrag agter hierdie grootse onderneming was. Die Verwoerddam is destyds deur 'n buitelandse konsortium gebou, aangesien die kundigheid vir so 'n reuse onderneming nie in Suid-Afrika beskikbaar was nie.
"Een van die kontrakvoorwaardes was dat Suid-Afrikaners in die proses opgelei moes word. Dit het daartoe gelei dat die departement van waterwese self die bou van die PK le Rouxdam kon onderneem. Talle ander projekte kon daarop volg.
"Toe die twee damme kort na die oorgang van 1994 neutrale name, naamlik die Gariepdam en die Vanderkloofdam ontvang het, het die Vryheidsfront dit as deel van 'n vreedsame skikking aanvaar.
"Dit is eintlik lagwekkend dat daar geen vergelykbare projek sedert 1994 onderneem is, om na oud-president Mandela te vernoem nie. Die VF Plus sal hierdie vernoeming aktief teenstaan," sê Boshoff.