Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

VF Plus verwerp die Krediet-Wysigingswetsontwerp as verkeerde instrument vir armoedeverligting

Hulp aan mense met erge skuldprobleme is een van die probleme waarvoor die Nasionale Krediet-Wysigingswetsontwerp antwoorde moet bied.

"Sulke komplekse probleme vereis ‘n holisties benadering waar faktore soos die ekonomiese omgewing wat armoede veroorsaak, in ag geneem moet word. Armoede styg tans weens swak ekonomiese groei en daar bestaan ‘n breë konsensus dat die regering se beleid van inmenging in die mark, wanbesteding en korrupsie, die oorsaak daarvoor is," het adv. Anton Alberts tydens 'n parlementêre debat Woensdag oor die wetsontwerp gesê/

"Gegewe hierdie konteks is dit uiters duidelik dat die skepping van skuldberadingprosesse vir 'n bevolking met 'n werkloosheidsyfer van meer as 30% net 'n pleister op die siekte van 'n terminaal siek pasiënt is. Dit kan op kort termyn help, maar sal die pasiënt red nie.

"Korttermyn- of kosmetiese oplossings is daarom nie die antwoord nie. ‘n Sosio-ekonomiese impakstudie oor die aangeleentheid was nie ‘n vereiste vir die finale wetsontwerp nie en dit kan negatiewe gevolge inhou.

"Die impak van die wetsontwerp op die land se ekonomiese ekostelsel is onbekend. Dit kan lei tot die verdwyning van wettige kredietinstrumente en -ondernemings met ‘n gepaardgaande verlies aan werksgeleenthede en ‘n toename in onwettige kredietverlening.

"Statistieke oor die huidige skuldsiklusse toon aan dat skuld afneem. Suid-Afrika is in die langste tydperk van daling in huishoudelike skuld en daar is ‘n afname in slegte lenings.  Skuldbevele en dagvaarding is die laagste sedert data-rekords begin het. Dit lyk dus asof mense hul krediet beter bestuur en die huidige skuldintervensiestelsel kan 'n bydraende faktor wees.

"Ten spyte van hierdie goeie nuus, is dit duidelik dat slegs beleidsveranderings wat ekonomiese groei fasiliteer, die skuldprobleem volhoubaar sal verbeter.

"In wese het Suid-Afrikaners, veral die armes, werksgeleenthede nodig om volhoubaar uit die skuldkrisis te kom. Daarom moet die departement van handel en nywerheid eerder introspeksie doen en ‘n onafhanklike studie laat doen om te bepaal watter beleid staan in die pad van ekonomiese groei en volhoubare werkskepping.

"Die armes moet gehelp word, en dit kan ten beste gedoen word deur werkskepping. Deur slegs die simptome te behandel sonder om die kernoorsake aan te spreek, verleng die lyding en stel bloot die ekonomiese inploffing uit wat die ANC-regering se huidige ekonomiese beleidsrigting veroorsaak het," het Alberts gesê

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.