Die VF Plus verwelkom die oorwinning wat AfriForum behaal het met die hofbeslissing dat matriekuitslae wel in koerante gepubliseer mag word.
Hoewel verpersoonlikte massakommunikasie dit maklik maak om uitslae direk aan kandidate te verskaf, is daar steeds ‘n groot behoefte aan gepubliseerde uitslae.
Benewens die feit dat dit vir matrikulante, hul familie en vriende belangrik is om hul eksamennommers en uitslae in die koerant te sien, is dit ‘n goeie refleksie van skole, distrikte en provinsies wat hard gewerk het om leerders te help om sukses te behaal.
Die slaagsyfer, maar veral die vlak waarop leerders slaag, word dikwels as 'n aanwyser van die gehalte van skoling beskou.
Vir elke positiewe emosie rakende matriekuitslae, is daar ook negatiewe emosies. Druipelinge, sowel as skole, distrikte en provinsies wat swak vaar, kan gepubliseerde matriekuitslae as 'n vernedering beleef.
Die vraag ontstaan of dít nie die ware rede was vir die aanvanklike besluit om uitslae nié te publiseer nie en dat die Popi-wet bloot as verskoning voorgehou is.
Indien huiwering om matrikulante se privaatheid deur publikasie van die uitslae te skend wel die probleem was, is dit positief dat regsekerheid hieroor verkry is.
In die tussentyd het die gehaltebeheerraad vir basiese onderwys, Umalusi, die uitslae van 2021 goedgekeur.
Die klem wat Umalusi op die probleme voortspruitend uit die Covid-19-pandemie en gepaardgaande grendelstaat gelê het, is 'n aanduiding dat uitslae swakker as gewoonlik is. Sekerheid daaroor sal egter moet wag tot die uitslae bekend gemaak word.
Daar is reeds bekend gemaak dat 28 vakke se uitslae by die departement van basiese onderwys afwaarts aangepas is en vier vakke opwaarts; terwyl daar ook probleme is met groepe kandidate wat identiese vraestelle ingedien het.
Vertroue in die gehalte van die matrieksertifikaat is grondliggend tot die naskoolse onderwyssektor in Suid-Afrika. Daarom is dit belangrik dat Umalusi woord hou en seker maak dat leemtes in die stelsel uitgeskakel word.