"Die VF Plus verwelkom die sakeredding van die SAL met kwalifikasie," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van openbare ondernemings.
"Dit is ‘n stap in die regte rigting, maar die redery is tot so ‘n mate die grond in bestuur met uitstaande skuld, onbekostigbare kontrakte en ‘n oorlade personeelkorps, dat sy inkomste te min is om sy uitgawes te dek en hy wesenlik bankrot is.
"Dit is dus duidelik dat dit veel meer gaan verg om die SAL se diepliggende probleme te behandel en hom op die herstelpad te plaas. Daarvoor is ‘n politieke wilsbesluit nodig wat totaal onbreek.
"Volgens Solidariteit het sy regsaksie die besluit moontlik aangehelp en die VF Plus verwelkom die rol wat Solidariteit as verantwoordelike vakbond in die aangeleentheid gespeel het.
"Die VF Plus sal ‘n oorsigrol speel om te verseker dat die sakereddingspligtige sonder die invloed van die ANC besluite sal kan neem. Die wet vereis dat daar geen politieke inmenging in so ‘n reddingsaksie toelaatbaar is nie aangesien ongewilde besluite noodwendig geneem sal moet word."
"Een daarvan is ‘n totale herstrukturering van veral personeel en onbeskostigbare kontrakte wat nie tot voordeel van die redery is nie.
"Belastingbetalers moes te lank reeds pa staan vir die redery se mislukkings. Die SAL is lank nie meer ‘n bate vir die mense van Suid-Afrika nie en hou geen ekonomiese voordele in nie aangesien belastinggeld die redery moet befonds ten koste van armes aan wie eerder dienste gelewer kon word.
"Daar is tans veel groter prioriteite in die land soos infrastruktuur, basiese dienslewering en droogtehulp."
"Die R4 miljard, bestaande uit R2 miljard aan bedryfshulp en R2 miljard aan skuldwaarborge, is duidelik nie genoeg nie en daar sal weer van belastingbetalers verwag word om die hand in die sak te druk om te help.
"Daarom is dit belangrik dat hierdie sakeredding sonder enige inmenging geskied om sodoende ‘n situasie te skep waar die redery ten dele of in geheel aanloklik kan raak vir ‘n private ekwiteitsvennoot.
"Die enigste uitweg is om die SAL nou só te herstel dat geprivatiseer kan word en vir die land ‘n bate kan wees. ‘n Staats-lugredery is ‘n luukse en die regering het tans te veel ander dwingende prioriteite wat aandag en hulp benodig en verdien," sê Wessels.