Die VF Plus gaan die Emfuleni-stadsraad versoek om ‘n noodplan saam te stel om die gebied van totale ondergang te red.
Die versoek kom nadat lede van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) verhinder het dat twintig nuwe vullsiverwydering-vragmotors wat ten duurste deur die Emfuleni-stadsraad gehuur is vir skoonmaakdienste, begin om Vanderbijlpark se vullis weg te ry.
Die voertuie word teen ‘n bedrag van R2,3 miljoen per maand gehuur. Samwu hou vol dat minder groot trokke en meer ligte voertuie nodig is om dié belangrike diens te verrig.
Die kontrak beloop ses maande wat die raad R14 miljoen gaan kos. Die vragmotors is Maandag afgelewer en werkers sou Dinsdag begin om die dorp skoon te maak.
"Emfuleni gaan die afgelope maande gebuk onder geweldige diensleweringsprobleme. Slegs een vullisverwyderingstrok was beskikbaar om die hele gebied se vullis te verwyder omdat die diensverskaffer die res van die vloot teruggeneem het. Die raad het nagelaat om die diensverskaffer te betaal," sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in Emfuleni.
"Intussen verrys onwettige vullishope soos paddastoele en inwoners kla oor rotpeste in die woongebiede.
"Emfuleni se burgemeester, Gift Moerena, het duidelik nie sy besluit om die voertuie te huur, deeglik oordink nie. Die raad kon eerder R9 miljoen bestee het om Emfuleni se skuld by die diensverskaffer te vereffen. Die raad het ook nie ‘n dieselbegroting vir die nuwe vragmotors goedgekeur nie.
"Die party gaan die raad versoek om die saak te ondersoek en ‘n noodplan saam te stel om doeltreffende dienslewering aan die inwoners van Emfuleni te bied waarop hul geregtig is.
"Die tyd het aangebreek om teen swak dienslewering terug te slaan deur vir ‘n party te stem wat die belange van inwoners op die hart dra en dienslewering as ‘n prioriteit beskou. Dit is nou of nooit," sê Senekal.