Dit is ‘n skande dat die publiek weer die las moet dra van Eskom se verhoogde tarief van 9,4% om op te maak vir die wanbestuur by die kragvoorsiener.
Daar is nou ook erken dat die nuwe peperduur kragsentrales Medupi en Kusile in werklikheid disfunksioneel is weens swak beplanning en bouwerk waarin korrupsie sonder twyfel ‘n baie groot rol gespeel het.
"Eskom sal moet optree en die diensverskaffers wat die sentrales opgerig het verantwoordbaar hou om die geld wat daar vermors is, te verhaal. Dit kan nie van die belastingbetalers verwag word om hierdie rekening ook te dra nie, sê adv Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.
Verbruikers kan eenvoudig nie verder gemelk word deur verhogings vir die wanbestuur, onbevoegdheid en korrupsie wat alles kenmerk waarby die ANC betrokke is nie. Suid-Afrika se ekonomiese "groeikoers was slegs 0,8% in die laaste jaar. Vandag se kragverhoging moet hierteen gemeet word.
"Intussen moet Eskom dringend optree om te sorg dat wanbetalers begin om uitstaande skulde te betaal, veral wat ‘n plek soos Soweto aanbetref. Diensverskaffers wat ingevolge Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) kontrakte gekry het, moet verantwoordelik gehou word vir hul swak diensverskaffing. Gelde wat aan dié diensverskaffers betaal is moet verhaal word.
"Dit verander nie aan die feit dat Eskom geprivatiseer moet word nie en dat gesonde kompetisie toegelaat moet word in die kragopwekkingsveld.
"Intussen sal onbillike verhogings soos dié van vandag daartoe lei dat verbruikers al hoe minder krag van Eskom sal gebruik, en toenemend planne sal beraam om selfvoorsienend te raak. Die skrif is aan die muur vir Eskom," sê Alberts.