Die VF Plus slaan terug teen swak dienslewering in Limpopo en het verskeie klagtes by onder andere die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK), polisie en Groen Skerpioene oor probleme in Limpopo aanhangig gemaak.
Die jongste klag is vandeesweek by die polisie in Thabazimbi teen die munisipale bestuurder, mnr. GT Ramagaga, aanhangig gemaak. Dit handel oor onbehandelde riool wat vrylik by die Thabazimbi-rioolwerke in die Rooikuilspruit vloei. Die Rooikuilspruit vloei in die Limpoporivier en veroorsaak wyer besoedeling van drinkwater vir beide mens en dier.
Vorige klagtes sluit in ‘n klag teen die Modimolle-Mookgopong-munisipale bestuur en die bestuur van die munisipale abattoir wat bloed, fetusse en ander afvalstowwe in die Nylrivier by Modimolle stort. Die Groen Skerpioene het reeds die abattoir besoek en is besig om hul verslag saam te stel.
"‘n Klag wat by die polisie teen dieselfde munisipaliteit gelê is oor riool wat in ‘n veld by ‘n skool agter die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle uitloop, is reeds aangespreek en die lek, wat maande lank ‘n probleem was, is herstel," sê Marcelle Maritz, VF Plus leier in Limpopo.
"Die VF Plus het ook ‘n klag by die polisie en Groen Skerpioene ingedien teen die ontwikkelaar van Die Oog Aftree-landgoed oor rioolbesoedeling wat as gevolg van gebrekkige infrastruktuur toegelaat word om die onverstoord voort te gaan. Ook hierdie klagte word aktief ondersoek.
"Die VF Plus sal voortgaan om swak dienslewering teen te staan tot voordeel van getroue belastingbetalers," Maritz.