VF Plus se jaarlikse evaluering van ANC-Kabinet prestasies/mislukkings 2015
Inhoudsopgawe
1. Werkswyse
2. Voordele
3. Rapport
Hiermee die VF Plus se jaarlikse einde van die jaar evaluering (rapport) van die ANC-kabinet se prestasies en mislukkings in 2015.
1. Werkswyse.
As werkswyse word kiesers en veral moontlike VF Plus kiesers regoor die land gevra om ministers en sake wat vir hulle hierdie jaar belangrik was, aan te dui. Daarna moet hulle ’n mening en ’n slaag- of druippunt daaroor gee.
2. Voordele
Die voordele van so ’n opname is dat dit aandui watter politieke sake vir hierdie kiesers tans baie belangrik is en hoe hulle daaroor voel. Die verslag is ’n akkurate opsomming van die deursnee VF Plus-kieser se belewenis van die kabinet en regeringsbeleid.
Uit die aard van die saak is alle ministers (35) en ’n groot aantal sake deur die kiesers genoem. Slegs die 20 kabinetslede wat duidelik gedruip of geslaag het, is bespreek. Vir slaag is ‘n groen kol toegeken, vir druip ‘n rooi kol en die ander 15 ministers het ‘n oranje kol gekry. Die oranje kol-toekennings is ter wille van die lengte van die verslag, nie bespreek nie.
Daar is ook vyf Vrot Appel-toekennings gemaak. Dit is kabinetslede wat gedruip het en uitgesonder word vir die skade wat hulle die land en die ekonomie tans aandoen.
3. Rapport.
Hier volg die beoordeling en die kabinet se eksamenuitslag en rapport:
Jacob Zuma: President van Suid-Afrika
Rooi – Druip – Vrot Appel
1. Die politieke jaar 2015 is deur die Nkandla-krisis oorheers. Met sy reaksie op die Nkandla-gebeure het pres. Zuma die Openbare Beskermer (OB) se aanbevelings asook die parlement as wetgewende gesag grootliks geïgnoreer en probeer omseil.
2. Met die ignorering van ‘n hooggeregshof-bevel dat Omar al-Basjir, Soedanse president, nie die land mag verlaat nie, het die president die howe as die regsprekende gesag berekend geïgnoreer en ‘n hofbevel verontagsaam. Hierdie gebeure, asook die besluit om uit die Internasionale Strafhof te onttrek, het Suid-Afrika soos nooit tevore nie op die verhoog van die internasionale gemeenskap onbloot as ‘n blatante skender van menseregte.
3. Deur Hamas, wat deur baie lande as ‘n terroriste-organisasie beskou word, op die hoogste vlak as president te ontvang – maar die Dalai Lama te weier – is Suid-Afrika se internasionale beeld verdere skade berokken.
4. Tydens die studenteprotes, wat met geweld gepaard gegaan het, het pres. Zuma aangekondig daar gaan aanstaande jaar geen verhoging in studiegeld wees nie. Waar universiteitshoofde vir jare gesukkel het om verhoogde staatshulp van die regering te kry, kry die studente dit dadelik met protes en geweld reg. Dit het die boodskap aan die breë Suid-Afrikaanse samelewing gestuur dat geskille voortaan suksesvol met geweld besleg kan word. Die studentegeweld het dan ook na hierdie toegewing voortgeduur terwyl die regering nog steeds worstel om die oorhaastige belofte ter waarde van R3,5 miljard bymekaar te kry.
5. Pres. Zuma se skokkende uitlating dat hy die ANC voor Suid-Afrika stel, tas die demokrasie, die Grondwet en sy ampseed as president aan. In baie opsigte het dit beleggers en ander se vrese bevestig dat die regering die ANC se verryking en belange bo dié van Suid-Afrika stel.
6. Pres. Zuma se gereelde eensydige geskiedenislesse vernietig versoening en verdeel Suid-Afrikaners verder. So het sy negatiewe verwysings na Afrikaners en Jan van Riebeeck aan die begin van 2015 ‘n anti-wit-heksejag aan die gang gesit wat steeds voortduur. So ook sy feitelik verkeerde uitsprake dat daar vrede in Afrika was tot ‘ander’ – bedoelende wittes – hier opgedaag het. Deur sulke geskiedenisfoute te verkondig, bevestig die president dat hy self ‘n geskiedenisles nodig het. Hierdie optredes staan in skrille kontras met pres. Nelson Mandela se leierskap en versoeningsbenadering waar hy byvoorbeeld deur sy uitsprake en die aantrek van ‘n Springboktrui versoening gedemonstreer het.
Cyril Ramaphosa: Adjunk-president van Suid-Afrika
Groen – Slaag
1. Adj.-pres. Ramaphosa kom sy verpligtinge as leier in die nasionale vergadering (leier van regeringsake) goed na. Hy is gereeld op sy pos – ook met betrekking tot die antwoord van vrae.
2. As deel van die opvolgstryd na pres. Zuma, is die indruk dat elke moontlike onoplosbare probleem deur pres. Zuma aan adj.-pres. Ramaphosa gedelegeer word met die hoop dat hy sal misluk. So was hy as fasiliteerder gestuur na die uiters moeilike probleme in Suid-Soedan, Burundi en Lesotho.
3. Hy moes ook die reddingsboei wat in Junie na die mislukte en ongewilde e-tol uitgegooi is, hanteer.
4. By dit alles het hy opdrag gekry om die doeltreffendheid van die 700 staatsbeheerde nutsmaatskappye te verbeter en ‘n strategie uit te werk om dié wat misluk, finansieel om te keer. Dit het gemaak dat hy in die middel van die Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die Poskantoor se krisisse te staan gekom het.
5. Adj.-pres. Ramaphosa het suksesvolle afvaardigings na Japan en China gelei om te probeer leer hoe hulle soortgelyke staatsbeheerde nutsmaatskappye bedryf. Hoewel hy nie in alle gevalle suksesvol was nie, het hy tog sinvolle bydraes gemaak deur byvoorbeeld te sorg dat ons vir etlike maande nie beurtkrag gehad het nie en dat ‘n professionele buitestaander soos Mark Barnes by die Poskantoor aangestel is.
6. Toe hy onbewustelik deur ‘n gehuurde vlug by die Guptas betrek is, het hy nie gehuiwer om prosedures te kritiseer en, anders as die president, van kommersiële vlugte na die buiteland gebruik te maak nie.
Kabinetslede:
Jeff Radebe: Minister in die Presidensie
Groen – Slaag
Min. Radebe speel ‘n belangrike rol in die kabinet as minister in die presidensie maar ook as minister van beplanning en monitering. Dit wil voorkom of onder sy leiding die uitvoering van die Nasionale Ontwikkelingsplan weer aandag begin kry met die uiteindelike aanwysing in September 2015 van 25 nuwe kommissielede.
Sy departement word ook goed bestuur en het ’n skoon oudit ontvang.
Faith Muthambi: Kommunikasie
Rooi – Druip – Vrot Appel
Die minister se irrasionele beskerming van Hlaudi Motsoeneng, die SABC se bedryfshoof wat onwettig sy pos beset, is tekenend van die Zuma-administrasie se obsessie met kader-ontplooiing ten koste van die belange van die breë samelewing. Sy het in die proses die gesag van die Grondwet, die Uitsaaiwet en die Openbare Beskermer wesenlik ondermyn.
Haar gebrek aan bestuursvermoë en fokus op politieke gevegte het voorts veroorsaak dat haar departement die spertyd vir digitale migrasie gemis het. Tans ontneem dit talle geleenthede vir die skep van nuwe uitsaaiers en die gevolglike skep van werksgeleenthede.
Pravin Gordhan: Samewerkende Regering en Tradisionele Sake
Rooi – Druip
Baie munisipaliteite se dienslewering word steeds swakker nieteenstaande die minister se “back to basics” program wat aangekondig is om munisipaliteite reg te ruk.
Omdat agterstallige dienstegelde van munisipaliteite reeds meer as R 100 miljard beloop, dreig Eskom om agterstallige munisipaliteite se elektrisiteitstoevoer af te sny. Die gevolg is dat getroue betalers van dienstegelde steeds meer nie-betalers moet subsidieer wat onbillik en onregverdig is.
Nosiviwe Mapisa-Nqakula: Verdediging en Militêre Veterane
Rooi – Druip
Ongeag die minister van finansies se beroep op begrotingsbesnoeiings weens ‘n tekort aan geld, gaan die minister voort om miljarde rande beskikbaar te stel vir president Zuma se vervoer.
Die SA Lugmag is verantwoordelik vir die vervoer van die president en adjunk-president en die minister het aangekondig nuwe vliegtuie is nodig vir hul vervoer. Indien gekyk word na die vereistes wat gestel word vir die vliegtuie, soos reikafstand, kan dit die belastingbetaler tot R 4 miljard kos.
Dit is onnodig en die SANW het reeds ‘n tekort aan fondse tot so mate dat vegvliegtuie nie kan vlieg nie want daar is nie geld vir brandstof nie.
Ebrahim Patel: Ekonomiese Ontwikkeling
Rooi – Druip
Ten spyte van min. Patel se goeie werksetiek, is sy departement se beleid en aksies onvoldoende om die ekonomie te laat groei. Enersyds is die probleem dat die departement saam met die departement van handel en nywerheid ‘n swart ekonomiese bemagtigingsprogram implementeer wat nie bydra tot ekonomiese groei nie maar bloot bestaande ekonomiese bates herverdeel.
Andersyds is die departement bloot ‘n afdeling van die departement van handel en nywerheid en behoort die twee weer saam te smelt. Die verdeelde fokus kniehalter effektiewe ekonomiese bestuur.
Nhlanhla Nene: Finansies
Groen – Slaag
Min. Nene het in sy begrotingsredes vanjaar aangedui dat hy die erns van die regering se huidige finansiële dilemma besef en bereid is om dissipline toe te pas en staatsuitgawes te besnoei.
Toe me. Dudu Myene, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ‘n wysiging van die ooreenkoms met Airbus tot Suid-Afrika se finansiële nadeel wou aangaan, het minister Nene dit sonder huiwering gestop.
Dat baie van sy ministeriële kollegas nog nie die regering se finansiële dilemma besef nie, is duidelik uit die talle luukse reise en die aankoop van presidensiële vliegtuie deur ministers. Min. Nene sal in die toekoms moet bewys dat hy genoeg gesag in die kabinet het om sy beoogde finansiële dissipline af te dwing.
Blade Nzimande: Hoër Onderwys en Opleiding
Rooi – Druip – Vrot Appel
Die minister se eie rewolusionêre geloof het hom ingehaal toe hy self aan die verkeerde kant van die rewolusie gestaan het met die onlangse studente-opstande oor studiegelde. Hy het die prys betaal vir sy party se valse beloftes van gratis hoër onderrig wat onvervulde verwagtinge by studente gewek het.
Die minister se deurlopende subtiele druk op oorwegend Afrikaanse universiteite getuig dat hy geen begrip het vir die erkenning van diversiteit soos dit in die Grondwet voorkom nie.
Soos dit ‘n ware kommunis betaam, het sy Sowjet-denke van sentralisasie en beheer van die samelewing tot op die fynste besonderhede gelei tot die skep van ‘n wetsontwerp wat daarop gerig is om die tradisionele outonomie van universiteite te ondermyn.
Sou die wetsontwerp in sy huidige vorm voortgaan, sal dit die einde van die land se uitnemende onafhanklike universiteite beteken, verskraal tot gedienstige tradisionele Afrika-universiteite wat geen bydra lewer tot die wêreld nie.
Malusi Gigaba: Minister van Binnelandse Sake
Rooi- Druip
Min. Gigaba het deur sy optrede die afgelope jaar ongekende skade aan ons toerismebedryf veroorsaak. Toerisme was tot voor hierdie fiasko een van die min bedrywe in Suid-Afrika wat groei getoon het.
Die aandrang op volledigegeboortesertifikate as 'n vereiste het voorsienbare negatiewe gevolge vir toerisme gehad. Min. Gigaba se hardkoppigheid en weiering om dit te verander het ons duur te staan gekom. So ook die feit dat die departement van binnelandse sake tans so lank neem om die omgekeerde maatreëls, soos die kabinet opdrag gegee het, te implementeer. Om verlore toerisme-markte terug te wen, gaan nie oornag gebeur nie.
Mildred Oliphant: Arbeid
Rooi – Druip
Onder die minister het die rassistiese aard van arbeidswetgewing verskerp en is daar geen teken van die broodnodige verslapping van arbeidsregulering wat in die huidige finansiële omstandighede so broodnodig is vir ekonomiese groei nie.
Voorts het die minister, in teenstelling met internasionale reg, geweier om Regstellende Aksie in die staatsdiens af te skaf ten spyte van die feit dat die grondwetlike mikpunt dat die staatsdiens die breë samelewing moet weerspieël, reeds oorskry.
Nkosinathi Nhleko: Polisie
Rooi – Druip
Statistiek SA (SSA) het bevind dat die Suid-Afrikaanse publiek toenemend onveilig voel – veral in die aand. Geweldsmisdaad (moord, roof, huisroof ens.) het skerp toegeneem.
Volgens SSA het 62,8% huishoudings nie klagtes van roof, 55,5% nie klagtes van inbrake en 54,1% nie klagtes van huisroof by die Polisie ingedien nie omdat hulle meen die Polisie sal nie en kan nie iets daaromtrent doen nie. Hieruit is dit duidelik dat die publiek steeds meer vertroue in die Polisie verloor.
Daarby dank die minister die hoof van die Valke af omdat hy ondersoek wou instel na Nkandla.
Politieke lojaliteit in die Polisie se topbestuur is verlammend en daarom kan misdaad nie effektief bestry word nie.
Lynne Brown: Openbare Ondernemings
Rooi – Druip
Hoewel die minister die talle probleme in haar departement geërf het, is die krisis in haar departement groot en het sy nog nie werklik daarin geslaag om dit te verbeter nie.
Die geweldige wanbestuur en verduistering van staatsgeld in talle openbare ondernemings, soos PetroSA, SAA, en Eskom, is tekenend van die ANC se gebrek aan vermoë om die land na behore te bestuur in belang van almal. Dit is ook ‘n aanduiding dat die ANC se beleid van staatsinmening en pogings van die staat om self deel te neem in die ekonomie, geen substansie het nie.
Verder is die minister se onvermoë om die talle verarmde Transnet-pensioenarisse se pensioenfondse en mediese skema finansieel te versterk en eerder toe te laat dat die litigasie daaroor voortgaan, ‘n skreiende vergryping van menseregte.
Thulas Nxesi : Minister van Openbare Werke
Rooi – Druip
Min. Nxesi se totale bydrae die afgelope jaar was om met ‘n amateuragtige poging ten alle koste te probeer om pres. Zuma te beskerm rakende die Nkandla-skandaal. Daarvoor is ‘n skandalige verslag aan die parlement se ad hoc-komitee voorgehou.
Na die Appèlhof se onlangse uitspraak teen hom, lê min. Nxesi se geloofwaardigheid aan skerwe en behoort hy te bedank. Verder het hy ook nie daarin geslaag om geloofwaardigheid na sy departement terug te bring nie. Openbare werke word steeds as ‘n bron van grootskaalse korrupsie beskou.
Gugile Nkwinti: Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming
Rooi – Druip – Vrot Appel
Verwarrende grondhervormingsaankondigings en die swak toepassing van beleid skep tans ernstige onsekerheid in veral die landbousektor en bedreig so voedselsekerheid.
Die Wetsontwerp op Onteiening, wat grondhervorming deur onteiening moontlik maak, skep groter onsekerheid en ontmoedig beleggings in Suid-Afrika.
Die minister se valse beloftes dat landbou-organisasies en belanghebbendes voorstelle kan maak oor die 50/50-aandelebeginsel in grondhervorming, bewys dat hy nie vertrou kan word nie.
Naledi Pandor: Wetenskap en tegnologie
Groen – Slaag
Uit haar toesprake en die hantering van vrae in die parlement blyk dit dat min. Pandor volledig in beheer van haar departement is. Haar departement is met groot sukses betrokke by die SKA-ruimteprojek en die departement finansier tans die oprigting van die Meerkat as voorloper van die groter projek. Buitelandse betrokkenes praat met lof van die samewerking wat hulle van die departement kry met hierdie projek.
Siyabonga Cwele: Telekommunikasie en die Poswese
Rooi – Druip
Die minister se hantering van die krisis in die Poskantoor is geheel en al gebrekkig. Die Poskantoor is toegelaat om te lank op die rand van ineenstorting te huiwer terwyl ‘n groot deel van die ekonomie steeds afhanklik is van die instelling.
‘n Groot probleem was dat die minister tot met die aanstelling van Mark Barnes aangehou het met kader-ontplooiing waarmee dit duidelik was dat die Poskantoor se probleme nie omgedraai sou kon word nie.
Die talle valse beloftes aan deeltydse werkers rakende permanente aanstellings en aan permanente personeel rakende vergoeding, het die moraal van die instelling ook ernstig ondermyn.
Derek Hanekom : Minister van Toerisme
Groen – Slaag
Min. Hanekom het deurlopend ‘n goeie begrip vir die sensitiwiteite van die toerismebedryf gedemonstreer en was sigbaar op grondvlak. Hy moet geprys word vir die feit dat hy die moed gehad het om op te staan teen min. Gigaba se dom besluit met betrekking tot geboortesertifikate en visa.
Na ‘n lang interne stryd en die toetrede van adj.-pres. Ramaphosa, het min. Hanekom daarin geslaag om die kabinet te oortuig om die besluite van min. Gigaba om te keer.
Rob Davies: Handel en Nywerheid
Rooi – Druip – Vrot Appel
Die minister se Sowjet-denke van sentralisasie en beheer het gelei tot die indiening en aanvaarding van ‘n reeks absurde wette. Sekere wetgewing kon wel tot dusver gekeer word, maar ander is deur die ANC deurgeforseer.
Onder die wetgewing tel die verskerpte rassistiese swart ekonomiese bemagtigings-oogmerke om kunsmatig 100 swart nyweraars te skep. Die ware oogmerk van bemagtiging moet eintlik wees om op ‘n breë basis ontwikkeling te laat geskied onder swart en wit.
Voorts is die Wetsontwerp op Beleggingsbeskerming reeds in die nasionale vergadering deurgeforseer. Dié wet gee minder beskerming aan oorsese beleggers in Suid-Afrika as die bestaande bilaterale handelsooreenkomste. Dit skep ook geen beskerming vir Suid-Afrikaanse beleggers in ander lande nie.
Die Amerikaanse- en Europese handelskamers het dit duidelik laat blyk dat miljarde Rande se beleggings weens hierdie wetsontwerp teruggehou gaan word.
Die minister het die proses rondom AGOA so swak bestuur dat dit lyk of Suid-Afrika binnekort nie meer in aanmerking gaan kom vir handelsvoordele ingevolge dié Amerikaanse wetgewing nie. Hierdie swak bestuur van handelbetrekkinge en die skep van absurde wetgewing vind plaas in ‘n tyd waar die land dit ekonomies die minste kan bekostig.
Dipuo Peters: Vervoer
Rooi – Druip
Die minister sal altyd onthou word vir die swak bestuur van die e-tol-debakels in Gauteng en die Wes-Kaap. Hierdie stelsels moet afgeskaf word. Ten spyte van ‘n algemene belastingopstand en die finansiële inploffing van die Gautengse e-tolstelsel, gaan sy voort om die stelsels te verdedig.
Hierdeur het die minister toegelaat dat ‘n morele platform geskep is vir ‘n groeiende algemene belastingopstand.
Die minister se onlogiese verdediging van die mislukte AARTO-stelsel, wat steeds in toetsfase in Pretoria en Johannesburg toegepas word, is ‘n vermorsing van belastinggeld. Die AARTO-stelsel het glad nie daarin geslaag om die paaie veiliger te maak nie en skep bloot ‘n omgewing vir talle misbruike deur verkeersowerhede.
Die minister het ook toegelaat dat die Padongeluksfonds weens wanbestuur sodanig afgetakel word dat die fonds se bestuur op ‘n opportunistiese wyse nou ‘n irrasionele nuwe wetsontwerp probeer deurforseer wat die regte van eisers van die fonds wesenlik sal benadeel.
Die minister het ook oorsig gehad oor PRASA se aankoop van treine uit Spanje wat nie gebruik kan word op Suid-Afrikaanse spoorlyne nie weens die verkeerde hoogte van die treine. PRASA het ontaard in ‘n klassieke voorbeeld van die sirkus-mentaliteit wat heers in staatsbeheerde instellings.
Mildred Oliphant : Arbeid
Rooi – Druip
Onder die minister het die rassistiese aard van arbeidswetgewing verskerp en is daar geen teken van die broodnodige verslapping van arbeidsregulering wat in die huidige finansiële omstandighede so broodnodig is vir ekonomiese groei nie.
Voorts het die minister, in teenstelling met internasionale reg geweier om regstellende aksie in die staatsdiens af te skaf ten spyte van die feit dat die grondwetlike mikpunt dat die staatsdiens die breë samelewing moet weerspieël, reeds oorskry.