"Elke Suid-Afrikaner moet die waarde van sy of haar erfenis ken, verstaan en bewaar. Ons moet weet waar ons vandaan kom, sodat ons kan weet waarheen ons op pad is. Baie erfenisterreine word verwaarloos en die waarde van die geskiedenis word onderskat," sê Tammy Wessels, VF Plus-jeugleier.
Die VF Plus-jeug het Erfenisdag gevier deur onbekende en verwaarloosde erfenisterreine, -gebiede en -monumente in elke provinsie te besoek en skoon te maak om sodoende 'n bydra tot die behoud van ons erfenis te lewer.
Wessels sê Afrikaner-geskiedenis en die geskiedenis van minderhede in Suid-Afrika word verwring deur die meerderheid om die narratief van die regerende party en radikale partye soos die EFF te pas.
Wessels sê ons erfenis word as politieke speelbal gebruik.
Die Vrystaatse Jeug het die Kroonstad Konsentrasiekampkerkhof besoek en skoongemaak. Hier het ongeveer 2000 vroue en kinders gedurende die Anglo-boereoorlog tussen 1899 en1902 gesterf.
So-ook vier onder andere die Gauteng Jeug ons erfenis deur die Burgershoop konsentrasiekamp-begraafplaas (Krugersdorp) skoon te maak en daar te braai; die Limpopo Jeug het 'n skoonmaakaksie by die Moordrift Monument in Mokopane (Potgietersrus); in Noordwes is daar 'n aksie in Koster en die Noordkaap Jeug gaan Magersfontein besoek.
"Ons Suid-Afrikaanse gedeelde erfenis bevat beide goed en sleg, maar ons het die reg om trots te wees op wie ons is, waar ons vandaan kom en op ons voorgangers wat op verskeie wyses bygedra het tot Suid-Afrika se sukses. Daar is krag in geskiedenis en om dit te ontgin moet ons dit ken en verstaan. Die VF Plus-jeug beywer hom daarvoor," sê Wessels