Onteiening sonder vergoeding en grondgrype in Suid-Afrika is nou ‘n realiteit, en daar heers groot onsekerheid onder alle gemeenskappe in Suid-Afrika, en veral in die landbougemeenskap, oor hoe die proses gaan afspeel en hoe dit almal in die land kan raak.
Die VF Plus-leier, Pieter Groenewald, het Maandag in Kaapstad die party se verdere stappe daarteen bekendgestel. Dit behels optrede op internasionale vlak teen die ANC se proses van onteiening sonder vergoeding.
Persone wie se eiendom direk bedreig word, kan van ‘n toegewyde sms-lyn gebruik maak wat bystand en raad sal bied. Die sms-nommer is 43366.
Groenewald het gesê die VF Plus het reeds ‘n amptelike klag indien by die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekommissie weens die ANC-regering se oortreding van Artikel 17 van die VN se Handves en Internasionale Deklarasie van Menseregte wat private eiendomsbesit beskerm en onteiening sonder vergoeding verbied.
Die party gaan ook op versoek van die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika ‘n voorlegging doen aan die Amerikaanse saakgelastigde in die land waarin die grondkwessie en plaasaanvalle en -moorde belig gaan word.
"Dit sluit aan by die VF Plus se huidige “Slaan Terug”-veldtog wat daarop gemik is om die internasionale gemeenskap se aandag op die aangeleentheid te vestig, en om die ANC daadwerklik teen te staan in dié verband.
"Ongeag die vae ondernemings van president Cyril Ramaphosa oor hoe hy die proses in die vooruitsig stel, is onuitwisbare en onrealistiese verwagtings reeds by die massas geskep soos gesien kan word in onwettige besettings wat reeds regoor die land voorgekom het by plekke soos Stellenbosch, Virginia, Harrismith en Wesselsbron. In Parys is munisipale grond oor die naweek beset.
"Dit is dus baie duidelik dat die president se ondernemings geen gewig hoegenaamd dra by die mense op grondvlak nie. Die vraag moet ook gevra word of die polisie werklik die politieke wil en vermoë sal hê om kragdadig en effektief op te tree indien massa-besettings landwyd sou voorkom.
"Die VF Plus wil dit duidelik stel dat hy nie gekant is teen grondhervorming nie en dat die meganisme wel deur die bestaande Artikel 25 van die Grondwet geskep is om dit op ‘n ordelike en verantwoordelike wyse te laat plaasvind teen vergoeding vir die eienaar. Hierdie proses het slegs misluk deur die korrupsie, wanbestuur en onbevoegdheid van die regering en sy instellings.
"Twee verdere wanopvattings wat die staat en die EFF as narratief vir die beoogde onteieningsproses sonder vergoeding aanvoer, is dat wittes grond wat hul besit gesteel het en dat die blote besit van grond welvaart skep. Dit is van alle waarheid ontbloot.
"Die VF Plus dring daarop aan dat die huidige, wettige meganismes gebruik word om grondhervorming op ‘n ordelike wyse te laat geskied. Die party sal enige ander onbillike poging tot grondhervorming op elke wyse moontlik teenstaan, het Groenewald gesê.