Die VF Plus in Gauteng het Vrydag met dié provinsie se nuwe LUR vir plaaslike regering, mnr. Uhuru Moila, vergader oor probleme in Emfuleni en Mogale City.
Die gesprek volg na maande se swak dienslewering van die Emfuleni-munisipaliteit en die politieke probleme in Mogale City se munisipaliteit.
Inwoners van Emfuleni gaan gebuk onder swak dienslewering wat betref die lewering van water en elektrisiteit vanaf Randwater en Eskom.
Emfuleni betaal nie sy skuld aan twee entiteite nie en Randwater het verlede maand weer gedreig om dienste na Emfuleni op te skort. Dié munisipaliteit skuld Randwater tans R311 miljoen terwyl sy skuld by Eskom tans ongeveer R170 miljoen beloop.
Wat Mogale City aanbetref, het die VF Plus die politieke onrus in die munisipaliteit met die LUR bespreek wat besig is om dienslewering erg te kniehalter. Die munisipaliteit gaan ook gebuk onder erge finansiële spanning en hy is tans besig om ontslae te raak van sy eiendomme, soos die Bob van Reenen-stadion en die Krugersdorp-wildpark, om sy skulde te delg.
Die VF Plus het reeds hierdie jaar druk geplaas op die vorige LUR, Paul Mashatile, en het eindelik op 1 Maart vanjaar daarop aangedring dat die premier hom moet verwyder as LUR. Hy is die volgende dag met Uhuru Moila vervang.
"Die VF Plus het dadelik met die nuwe LUR ‘n gesprek aangevra om hierdie probleme in Gauteng te bespreek en die LUR het dadelik tot so ‘n gesprek ingestem," sê Philip van Staden, VF Plus LPW in Gauteng.
"Konstruktiewe gesprekvoering is baie nodig om probleme in Gauteng te probeer oplos. Die VF Plus spreek die hoop uit dat Moila daadwerklik die politieke wil sal toon om in te gryp om die Emfuleni- en Mogale City-munisipaliteite reg te ruk sodat voldoende dienslewering aan inwoners gelewer kan word," se van Staden.
Die afvaardiging van die VF Plus in Gauteng het bestaan uit Philip van Staden (LPW), Jaco Mulder, leier van die VF Plus in Gauteng, asook raadslede Amanda de Lange (Mogale City) en Gerda Senekal (Emfuleni).