Die VF Plus gaan die departement van infrastruktuur-ontwikkeling in Gauteng versoek om dringend strukturele ingenieurs na alle skole in Gauteng te stuur om vas te stel of skoolgeboue veilig is.
"Die VF Plus wil toesien dat alles moontlik gedoen word om seker te maak dat geen skool en gemeenskap die hartseer en trauma moet ervaar soos wat tans by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark afspeel nie," sê Philip van Staden, VF Plus-LPW in Gauteng.
"Die departement van infrastruktuur-ontwikkeling moet eerste aandag gee aan skoolgeboue wat op dieselfde ontwerpersplan as die van Hoërskool Driehoek gebou is.
"Die oorsaak van die loopbrug-ineenstorting is nog nie bekend nie. Intussen kan daar egter nie toegelaat word dat 'n enkele leerling sy lewe verloor weens swak konstruksie nie," sê Van Staden.
Die VF Plus het vandag die skool besoek en met die skoolhoof, Hein Knoetze, en ander belanghebbendes vergader en hulp aangebied. Die VF Plus se jeugleier, mnr. Jean Kriek en parlementêre lid, adv. Anton Alberts, was ook teenwoordig.
Die VF Plus gaan die departement van onderwys en infrastruktuur-ontwikkeling versoek om nie toe te laat dat die Hoërskool Driehoek se skoolgebou gebruik word alvorens dit deur strukturele ingenieurs veilig verklaar is nie.