Die veelparty-regering van Johannesburg, waarvan die VF Plus deel is, het met hul jongste raadsvergadering volstrek geweier om die jaarlikse lidmaatskapfooi van R14 miljoen aan die South African Local Government Assosiation (SALGA) te betaal .
Die veelparty-regering voer aan SALGA is sedert 2009 nie deur die Ouditeur-Generaal geoudit nie en daarom is daar waarskynlik min of geen beheer oor dié organisasie se geldsake.
Die VF Plus is besorg oor die voormalige burgemeester van Johannesburg en huidige voorsitter van SALGA, Parks Tau, se vergoedingspakket van R3 miljoen per jaar.
"Daar is vasgestel dat 55% van SALGA se jaarlikse inkomste vanaf munisipaliteite landswyd aan personeel se salarisse spandeer word," sê Franco de Lange, VF Plus-raadslid en lid van die veelparty-regering in die Johannesburg-metroraad
"Elke munisipaliteit of metroraad is ook net geregtig op een stem op die uitvoerende liggaam van SALGA, ongeag van hoe groot die munisipaliteit of metroraad se bydrae is.
"Die veelparty-koalisie is dit eens dat die ondersteuning en dienste wat hulle van SALGA ontvang, nie die geld werd is nie.
"Die VF Plus ondersteun hierdie besluit ten volle en is beslis nie bereid om die ANC verder te verryk nie," sê De Lange.