fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Transnet pensioenfonds: Vat Gupta-verwante Regiments en Trillian vas

Die geregtelike kommissie onder leiding van regter Raymond Zondo wat staatskaping moet ondersoek, gaan waarskynlik kyk waarom die Gupta-verwante Regiments Capital as beleggingsadviseur by Transnet se Tweede Vastevoordelefonds (TVVF) aangestel is en na ongerymdhede wat daaruit voortgespruit het.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het dié versekering gegee in antwoord op ‘n geskrewe parlementêre vraag oor die rol wat Regiments as beleggingsadviseur by die fonds gespeel het. 

Uit die antwoord het dit ook aan die lig gekom dat Regiments ‘n bedrag van R228 miljoen gekanaliseer het na Trillion Capital Partners, ook ‘n Gupta-verwante maatskappy.

Die VF Plus het ‘n ondersoek-verslag aan Gordhan oorhandig met bewyse dat Regiments en Trillian moontlik verskeie wette verbreek het in hul hantering van ‘n transaksie namens die TVVF.

Agtergrond rondom Regiments wat deel uitmaak van die VF Plus se verslag aan min. Gordhan, is dat die dié maatskappy homself ook diep binne Transnet gevestig het.

Met die hulp van ‘n Gupta-vriend mnr. Stanley Shane is Regiments aangestel om take te verrig wat Transnet self kon verrig. Mnr. Shane het daarna voortgegaan om die voorsitter van die twee sukkelende Transnetfondse te word, wie se pensioenarisse nou gewikkel is in 'n hofgeding van R80 miljard teen Transnet weens die stroping van hul fondse.

"Regiments is ‘toevallig’ aangestel as die fondsbestuurder vir die twee sukkelende pensioenfondse en is eers verwyder toe hy uitgevang is in ‘n rentekoers-ruiltransaksie in botsing van belange met die TVVF," sê Adv Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.

"Die VF Plus het onder meer vasgestel dat die aanstelling van Regiments strydig was met die Wet op die Voorkeurverkrygingsraamwerk, en die renteruiltransaksie met Transnet as die teenparty het die TVVF-fonds blootgestel aan 'n transaksie wat die hele fonds kon uitwis.

"Die minister se bevestiging dat die Zondo-kommissie die aangeleentheid gaan ondersoek, word verwelkom en die VF Plus sal sy volle samewerking gee om seker te maak die ongerymdhede word tot op die been oopgevlek," sê Alberts.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.