Suid-Afrika se gehawende munisipale infrastruktuur sal toenemend agteruitgaan weens munisipaliteite se onvermoë om hul begrotings binne bepaalde finansiële jare te bestee.
Uit antwoorde van die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, Zweli Mkhize, op geskrewe parlementêre vrae van dr. Peter Groenewald, leier van die VF Plus, blyk dit dat onderbesteding nou die norm by munisipaliteite landwyd geword het.
In die vorige boekjaar (2016/17) is R1,36 miljard onderbestee wat die totaal vir die laaste vier boekjare, sedert 2013/14, op meer as R7 miljard te staan bring.
In sommige gevalle is daar wel geldige redes waarom bepaalde projekte se begrotings nie voor die einde van ‘n boekjaar bestee is nie. Nogtans het munisipaliteite ‘n totale bedrag van net meer as R5 miljard uit die R7 miljard oor hierdie vier boekjare verbeur weens ‘n onvermoë om dit enigsins te bestee.
Die departement het hom verlede jaar probeer distansieer van kritiek van die ouditeur-generaal (OG) oor die situasie deur al die skuld op munisipaliteite te pak en te sê daar bestaan ‘n gebrek aan gespesialiseerde vaardighede, leierskap en finansiële bestuur, en dat munisipaliteite nie in staat is om infrastruktuur-projekte te implementeer en te voltooi nie.
"Die erns hiervan word onderstreep deur ‘n verdere parlementêre vraag aan die minister oor die tekort aan opgeleide ingenieurs by munisipaliteite.
"Die antwoord lui onder meer dat daar in Gauteng geen ingenieur in Randfontein en Mogale City (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) is nie, en in Limpopo is die munisipaliteite Elias Motsoaledi (Groblersdal, Roossenekal), Ephraim Mogale (Marble Hall, Schuinsdraai Natuurreservaat) en Lephalale sonder ‘n ingenieur. By talle groot munisipaliteite is daar slegs een.
Groenewald sê in die meeste gevalle word as rede aangevoer dat die munisipaliteit “nie ‘n gekwalifiseerde en geregistreerde ingenieur se dienste kon bekom nie.
Volgens die minister gaan die departement as deel van sy “ingrypingsaksie” by munisipaliteite, en in besonder by die 87 waar daar ernstige probleme is, wel ingenieurs en “ander tegniese amptenare” ontplooi.
"Dit is egter nie bekend waar dié kundige persone gevind gaan word, en wanneer die departement beoog om hulle te begin plaas nie.
"Hierdie syfers skets ‘n duidelike prentjie van die onbevoegdheid van die departement en munisipaliteite wat toegeskryf kan word aan ‘n kultuur van swak dienslewering en korrupsie wat onder die ANC-regering vaardig geraak het," sê Groenewald.
Die VF Plus se voorstel om die probleem op die lang termyn op te los, is om sonder meer weg te doen met Regstellende Aksie (RA) en om op elke vlak die beste en kundigste werknemers aan te stel om die werk te doen, ongeag hul velkleur.