Die stygende werkloosheidsyfer wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) pas uitgereik het, skilder ‘n tragiese prent van agteruitgang in die ekonomie en groter swaarkry deur gewone mense wat probeer oorleef in ‘n onstabiele politieke omgewing.
Werkloosheid het in die derde kwartaal vanjaar gestyg tot 27,5%. Dit is duidelik ‘n produk van die ANC wat die land en sy mense op ‘n katastrofiese wyse gefaal het.
"Nie net het staatskaping, groeiende korrupsie en onreëlmatige besteding die staatskas uitgeput nie, maar beleidsonsekerheid rakende eiendomsreg en die negatiewe impak van jare se Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) wat slegs enkelinge verryk, het die ekonomie dramaties verwond. Die ANC se ontwikkelingstaat het dramaties gefaal," sê adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter
"Die ANC het die ekonomie sodanig uitgehol dat net ‘n drastiese verandering in ANC-ekonomiese beleid die stygende werkloosheid kan omdraai. Die regerende party is egter so verwring deur interne faksies en ‘n kapings-mentaliteit dat die party nie in staat sal wees om die ekonomie om te draai nie.
"Uiteindelik sal net ‘n regeringsverandering deur ‘n koalisie van redelike en pragmatiese opposisiepartye wat die vrye mark beskerm, die dag kan red. Intussen word die ekonomiese winter al hoe kouer vir werkloses," sê Alberts