"Voortslepende protesoptrede en onluste in verskeie dorpe in Noordwes knel die ekonomiese bedrywighede van die provinsie en lei tot verdere agteruitgang," sê Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes.
Na bewering is al die ingange na Brits versper in onluste tussen taxi-organisasies en buitelandse burgers. Die bewerings kon egter nog nie gestaaf word nie, maar dat die toegangsroetes na die dorp tydelik versper was is bevestig.
Vroeër die maand is die hoof ekonomiese roetes van Noordwes, naamlik die N12 by Potchefstroom en die N14 by Groot Marico ook versper en verskeie ander dorpe, soos Bloemhof en Ventersdorp het ook reeds deurgeloop, wat tot groot finansiële skade gelei het.
Groenewald sê die plaaslike ekonomie van die provinsie ly skade omdat ondernemings nie teen volle kapasiteit kan funksioneer en werkers nie by die werk kan uitkom nie.
"Openbare geweld is onaanvaarbaar en word ten sterkste deur die VF Plus veroordeel. Die regerende party moet verantwoordelikheid neem vir die brand-en-breek-kultuur wat hy geskep het en die oortreders tot die volle bestek van die reg laat vervolg.
"Ontevrede inwoners moet in plaas daarvan om staats- en privaateiendom te beskadig eerder hulle misnoeë by die stembus in Mei te kenne gee. Hulle moet die ANC daar straf vir die afgelope 25 jaar se leë beloftes, in plaas daarvan om by te dra tot die verval van Noordwes," sê Groenewald.