"Net soos gebeur het met die ANC-regering se gebrekkige TB-behandeling en aanvanklike mistasting rondom MIV/Vigs wat moontlik tot 300 000 onnodige sterftes tot gevolg gehad het, net so faal die regering die mense van Suid-Afrika met sy optrede rondom Covid-19," sê Fanie du Toit, VF Plus-LP in NRP (Noordwes).
"Die regering was oneerlik in sy poging om die mense van Suid-Afrika te oortuig dat die drakoniese inperking, wat nou sy honderdste dag nader, tot voordeel is van alle Suid-Afrikaners, hul voortbestaan en vir die ekonomie.
"Die aanvanklike tydperk van inperking wat pres. Cyril Ramaphosa in Maart vanjaar afgekondig het, sou slegs 21 dae beloop en was volgens hom nodig om die ‘infeksiekurwe” af te plat. Dit het toe reeds ‘n wesenlike bedreiging vir sommige ekonomiese sektore ingehou.
"Dit raak nou toenemend duidelik dat die president die nasie tot ‘n groot mate mislei het om deurgaans te glo die drastiese inperkingsmaatreëls is tot die groter publiek se voordeel."
"In die proses het hy die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, Nkosazana Dlamini-Zuma, toegelaat om na vrye wil van die mees drakoniese inperkingsmaatreëls in die wêreld op Suid-Afrikaners af te dwing.
"Veral klein- en mediumgroot-ondernemings, wat hoofsaaklik weens hul grootte nie aan bemagtigingsvoorskrifte voldoen nie, is genadeloos aan hul eie lot oorgelewer om ten gronde te gaan in wat ten beste beskryf kan word as ‘n komplot om hierdie vlak van die ekonomie te transformeer.
"Die gewraakte frase radikale ekonomiese transformasie het ‘n harde werklikheid geword en was nie langer bloot ideologiese retoriek nie.
"Die ware tragedie hiervan is dat alle Suid-Afrikaners, wit en swart, nadelig geraak is deur optrede van die ANC om sy eie mislukking op alle vlakke en vorms van regering oor die laaste 26 jaar te verbloem onder die dekmantel van ‘n gedwonge staat van Covid-19-inperking."
"Al wat hieruit voortgevloei het is ‘n vinnig groeiende werkloosheidskoers, groter afhanklikheid aan die staat en meer omvattende institusionele rasseverdeling en -wrywing. As laaste uitweg moes desperate landsburgers hulle toenemend tot die howe wend om oorlewing.
"Die mense van Suid-Afrika en ‘n party soos die VF Plus sal nogtans nie gaan lê nie. Wanneer ‘n land, ‘n nasie en ‘n volk op sy knieë is, is dit nie noodwendig ‘n teken dat hy verslaan is nie. Die mense van die land sal hul krag by die hul Skepper kry om die uitdagings te bowe te kom," sê du Toit.