Nasiebou in Suid-Afrika misluk, en die ANC-regering se poging om deur wetgewing mense te dwing om na mekaar uit te reik, sal nie slaag nie," het Wouter Wessels, parlementê woordvoerder vir kuns en kultuur tyden dié departement se begrotingsdebat Woensdag gesê.
Wessels sê nasiebou sal net slaag deur erkenning te gee aan die diversiteit van die land se gemeenskappe en kulture, en aan elk se afsonderlike behoeftes.
"Indien gekyk word na Suid-Afrikaners se gedrag en optrede teenoor mekaar op sosiale media en elders, is dit duidelik dat sosiale kohesie en nasiebou misluk.
"Die rede hiervoor is dat baie gemeenskappe uitgesluit en gemarginaliseerd voel aangesien die regering se resep vir nasiebou verkeerd is. Groot sportgebeurtenisse, vakansiedae en wette gaan mense nie van mekaar laat hou nie. Uitreiking na ander moet uit die hart kom.
"Diversiteit word nie erken in Suid-Afrika nie. Dit word bespreek en in toesprake genoem, maar dit bly by lippetaal.
"Lande wat ‘n goeie voorbeeld in hierdie opsig stel en waar nasiebou werk is Etiopië waar veral die onderskeie tale erkenning geniet, waar moedertaalonderrig belangrik is en waar elke kultuur en gemeenskap ‘n plek in die son het, en so ook Switserland.
"Artikel 6.2 van Suid-Afrika se Grondwet bepaal dat sekere tale histories benadeel is, en die regering moet daarom praktiese en daadwerklike maatreëls daarstel om die status van hierdie tale te verhoog en die gebruik daarvan te bevorder.
"Suid-Afrika het nie werklik elf amptelike tale nie. Daar is tien amptelike tale en een ‘supertaal’. Universiteite word slegs verengels. Daar word nie bygevoeg nie. Moedertaalonderrig moet as ‘n prioriteit gesien word. ‘n Wenresep is waar diversiteit erken word.
"Daar moet erns gemaak word met nasiebou. Ons moet mekaar se diversiteit verstaan en erken. Elkeen in die land se taal en erfenis moet erken word. Voeg eerder by as om weg te neem. Dít is ‘n ware wenresep.