Dit is nie apartheid se skuld dat die nasionale en provinsiale departemente van menslike nedersettings deur korrupsie en bedrog van amptenare en kontrakteurs die armes van huise ontsê nie. Dit is deel van die grypsug van die ANC-regering wat die aanvaarbare norm van staatsadministrasie geword het," Hte Wouter Wessels, VF Plus woordvoerder vir menslike nedersettings gesê.
"Boonop word daar in weinige gevalle eienaarskap aan mense oorgedra wat staatshuise ontvang en dit wil voorkom asof dit ‘n politieke truuk van die ANC is om kiesers afhanklik te hou van die regerende party.
Wessels het tydens dié departement se begrotingsdebat Woensdag in die parlement gesê dat, tot op datum, dit nie die armes is wat voordeel getrek het uit geld vir menslike nedersettings nie, maar die korrupte ANC en sy kaders.
"In die Vrystaat onder die premierskap van die ANC se sekretaris-generaal Ace Magashule, het die departement in 2010 R631 miljoen aan kontrakteurs betaal, onder wie Hlaudi Motsoeneng en die vrou van gewese minister Fikile Mbalula. Nog geen huis is met hierdie geld gebou nie.
"Die departement van menslike nedersettings se mandaat word ondermyn deur grootskaalse wanadministrasie, korrupsie en plundering. Dieselfde geld provinsiale departemente waar miljarde rande weens onreëlmatige uitgawes en vermorsing verlore gaan.
"In die praktyk word kontrakteurs toegelaat om deel te word van hierdie stroping van staatsgeld deur opgeblase pryse te hef terwyl substandaard-bouwerk aan die orde van die dag is. Huise val letterlik uitmekaar.
"Daar is gevalle waar mense tien jaar gelede huise gekry het en dit kort daarna moes ontruim weens die gevaar wat swak vakmanskap veroorsaak het. Daardie huise is tot vandag toe steeds nie herbou nie.
"Die minister kan dit nie so laat voortgaan nie. Daar moet gevolge wees vir die wat oneerlik is. Om die skuld te bly pak op die verlede en apartheid gaan nie aan armes huise gee nie.
"Suid-Afrika het ‘n verantwoordelike en verantwoordbare regering nodig. Die huidige regering sorg net vir homself en sy vriende ten koste van die armes," het Wessels gesê.