Die MRK het vandag op ‘n vraag van die VF Plus bevestig dat sy nasionale hoof van regsdienste, adv. Buang Jones, nie meer met die media mag praat rakende die Eben Etzebeth-aangeleentheid nie, dat sy optrede in dié verband ondersoek gaan word en dat daar bepaal gaan word of hy hoegenaamd enigiets verder met die Etzebeth-saak te doen mag hê.
Die bevestig die geldigheid van die VF Plus se kritiek verlede week oor die optrede van Jones en die MRK se hantering van die ondersoek. Die VF Plus het op Vrydag (4 Oktober 2019) in ‘n mediaverklaring gesê:
“Die uitlatings van mnr. Buang Jones, nasionale hoof van die Menseregtekommissie (MRK) se regsafdeling Donderdag gedurende ‘n vergadering in Langebaan oor Eben Etzebeth se beweerde gebruik van haatspraak, is uiters voortydig en bevooroordeeld.”
Die VF Plus sê nog altyd die MRK moet sonder enige vooroordeel in die belang van al Suid-Afrika se inwoners optree.
Die wyse waarop die MRK die afgelope weke met die Etzebeth-saak omgegaan het, het die indruk geskep dat dit nie die geval is nie en dit is nou bevestig deur die optrede teen Jones. Die VF Plus verwelkom daarom die optrede van die MRK.