"Die skorsing van Midvaal se munisipale bestuurder is ‘n bevestiging van die VF Plus se siening dat korrupsie diepgewortel in dié munisipaliteit is," sê Kobus Hoffman, VF Plus-raadslid in die Sedibeng-distriksmunisipaliteit.
De Klerk word geïmpliseer by die “jobs for cash”-skandaal wat die dorp onlangs tot in sy fondamente geskud het. Hy was vroeër jare die hoof-finansiële beampte van die munisipaliteit en dien reeds meer as tien jaar as munisipale bestuurder.
De Klerk was ook voorheen instrumenteel in die afdanking van fluitjieblasers van die VF Plus wat in 2007 ernstige ongerymdhede in die munisipaliteit aan die lig gebring het. Die VF Plus is vol vertroue dat die sluier van korrupsie nou finaal gelig sal word.
Groenewald sê die VF Plus is verder oortuig meer senior amptenare en politici in die Midvaal-munisipaliteit gaan vir soortgelyke klagte ondersoek word.
Die VF Plus sal ook voorleggings aan die nasionale vervolgingsgesag doen en versoek dat daar onverwyld opgetree word teen verdagtes. Die party wil toesien en verseker dat die volgende aspekte binne die Midvaal-munisipaliteit ondersoek word:
• Tenders
• Senior amptenare se brandstofeise
• Status van armlastige wat aan ‘n raadslid se familie toegeken is
• Stadsbeplanning en toekenning van besigheidslisensies
• Nepotisme
"Die VF Plus sal voortgaan om druk op die raad uit te oefen ten einde ‘n skoon en korrupsievrye administrasie te verseker," sê Hoffman.