Die vernietiging van treinwaens en infrastruktuur van Metrorail in Kaapstad het nou buite beheer geraak en die situasie waaraan duisende pendelaars daagliks blootgestel word, is niks anders nie as dade van terreur wat besig is om Kaapstad lam te lê," sê dr Corné Mulder, VF Plus-leier in die Wes-Kaap.
Mulder sê ongebreidelde anargie heers op dié voorstedelike vervoerstelsel met treinwaens wat aan die brand gesteek word, misdaad wat op treine floreer, infrastruktuur wat in duie stort en feitlik geen sprake meer van betroubare tydroosters nie.
Die twee treinwaens wat Donderdag by Retreat naby Muizenberg aan die brand gesteek is, volg kort op die voorval Saterdag by Kaapstad-stasie waar twee waens totaal verwoes is, en elf ander waens en infrastruktuur beskadig is. Die skade word op sowat R30 miljoen geraam.
Die voorval was die vyfde vanjaar in Kaapstad waar waens aan die brand gesteek is. Dit is buiten vandalisme soos kabeldiefstal wat feitlik daagliks voorkom en daartoe bydra dat treine gereeld gekanselleer word en in baie gevalle ure laat by hul bestemming aankom.
Metrorail het vanaf Oktober 2016 tot en met Oktober 2017 ‘n derde van sy passasiers verloor – van 15,4 miljoen tot 10,9 miljoen – wat bloot nie meer kans sien om afhanklik te wees van ‘n onbetroubare vervoerstelsel nie.
Mulder sê die wesenlike probleem lê egter by die honderdduisende passasiers wat totaal afhanklik is van Metrorail en op geen ander manier by hul daaglikse bestemming kan kom nie.
"Dit is bekend dat baie mense hul werk verloor hierdeur en dat leerlinge en studente eksamens mis en soms glad nie by die skool uitkom nie.
"Dit moet in gedagte gehou word dat Metrorail die oorgrote meerderheid van die Kaapse metro se werkmag vervoer en daarom die direkte slagaarstelsel van dié gebied se ekonomie is.
"Die afgelope jare het hierdie diens stadig maar seker tot ‘n stilstand geknars. Nou het dit ‘n punt bereik waar die situasie nie meer as enigiets anders as anargie beskryf kan word nie. Van Metrorail se kant word gereeld beloftes van verbetering gehoor, maar niks gebeur nie.
"Die DA-beheerde Stad Kaapstad kan ook nie langer net skouers optrek en sê hy bestuur nie die diens nie. Die harde werklikheid is dat die situasie Kaapstad direk raak, daar sal nou dringend, en sonder verdere leë beloftes, opgetree moet word om hierdie veldtog van terreur te stuit.
"Wat hier gebeur herinner aan wat die laaste paar jaar met die waterkrisis in die Kaap gebeur het. Die DA-beheerde stad het onus op die ANC-nasionale regering oorgeskuif om die krisis op te los en het self met hande gevou gesit en toekyk hoe dit feitlik op rampspoed uitgeloop het.
"Dieselfde scenario is tans besig om hom rondom Metrorail af te speel. Die VF Plus sal sonder verwyl met die onderskeie rolspelers wat hierdeur geraak word in verbinding tree om druk op die plaaslike en nasionale owerhede te plaas om sonder verwyl oplossings te vind.