Die VF Plus verwelkom die uitspraak van die Konstitusionele Hof oor die Gautengse departement van onderwys se appèlsaak oor die Hoërskool Overvaal en dat die staat nie teen die uitspraak mag appélleer nie.
Dit volg nadat die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, in Januarie vanjaar aangekondig het dat sy departement hul tot die Konstitusionele Hof sal wend na die Hooggeregshof-uitspraak oor die Hoërskool Overvaal.
Regter Bill Prinsloo het destyds gelas dat die skool nie 55 Engelstalige leerlinge hoef te aanvaar nie, aangesien die skool reeds vol was en die twee nabygeleë Engelse skole oorgenoeg plek gehad het om die leerlinge te akkommodeer.
Die VF Plus het in Januarie vanjaar in die Gautengse wetgewer die kop van Lesufi geeïs na dae lange geweld by die skool uitgebreek het en dit voorgekom het asof dit deur Lesufi georkestreer was.
Die VF Plus het Lesufi ook gewaarsku dat hy soos ‘n stout kind is wat nie wil luister nie en hom gaan vasloop met sy poging om hom tot die Konstitusionele Hof te wend en dat hierdie poging geen vrugte sou afwerp nie en dit net ‘n vermorsing van belastingbetalersgeld sal wees omdat die uitspraak slegs was om nie nog leerlinge toe te laat nie en dit nie ‘n grondwetlike kwessies was nie.
"Die LUR het nou geen voet meer om op te staan nie en sy inmenging by skole se besluite en sy politieke agenda om Afrikaanse skole te dwing om na dubbelmedium oor te skakel het nou finaal die uitklophou gekry," sê Philip van Staden, VF Plus-LPW in Gauteng.
Die VF Plus hoop dat Lesufi nou besef dat sy optrede die afgelope vier jaar teen Afrikaanse skole ‘n absolute mors van tyd en geld was en dat hy nou dalk sal begin om hom by sy werk as LUR te bepaal.
Van Staden sê geweld by die Hoërskool Overvaal het die VF Plus genoodsaak om klagtes by die SAPD in te dien en die premier van Gauteng te versoek om Lesufi af te dank.
Die VF Plus handig ook eersdaags sy klagtes teen Lesufi by die Gautengse wetgewer se integriteitskommissaris in vir sy minagting van die Grondwet in terme van Artikel 135 gelees saam met Bylae 2 artikel 5.
"Politici, ministers en provinsiale LUR’e, soos Lesufi, moet besef dat jy nie jou amp kan misbruik om op skole te trap en leerlinge se reg op moedertaalonderrig, soos vervat in artikel 29 van die Grondwet, kan misken en daarmee wegkom nie.
"Die VF Plus gaan nou daarop aandring dat Lesufi in die wetgewer moet verduidelik wat hierdie appélsaak die belastingbetaler gekos het aangesien hierdie saak met koste van die hand gewys is. Lesufi moet persoonlik pa staan vir die kostes verbonde aan die saak," sê van Staden.
‘n Skrywe in hierdie verband sal aan die Gautengse premier, David Makhura, die LUR vir finansies, Barbare Creecy, en die nasionale minister van onderwys, Angie Motshekga, gerig word.