'n Antwoord deur die minister van basiese onderwys onderstreep opnuut dat Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, ‘n agenda van sy eie dryf wat gemik is teen Afrikaanse skole in dié provinsie. (Vrae en antwoorde hierby aangeheg).
Die minister, Angie Motshekga, het op parlementêre vraag deur die VF Plus ook bevestig dat beoogde verandering aan die Skolewet niks met apartheid te make het nie.
"Afrikaanse skole het niks te vrees nie, solank hulle vol is."
Lesufi het egter vooorheen volgehou dat dit die verandering van die Skolewet ‘apartheidspraktyke’ sal uitwis.
Volgens die minister het die nodige veranderinge om weg te beweeg van apartheid in onderwys volledig ingetree met die skep van die Skolewet.
Adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus. sê die positiewe wat voortspruit uit sy vrae aan die minister is dat sy opnuut bevestig het dat Afrikaanse skole niks te vrees het nie, solank hulle vol is.
"Ook dit verskil van Lesufi se dreigemente dat selfs vol skole bloot sal moet ruimte maak vir anderstalige leerlinge, sê Alberts
“Die feit is dat Lesufi nie in lyn met sy gegewe begroting optree en meer skole bou nie, en ook nie dreig om Engelse skole te dwing om bykomende leerlinge in te neem nie, kan ‘n mens met net een afleiding laat, en dit is dat hy Afrikaanse skole wil vernietig.
Alberts sê Lesufi se oneerlikheid skemer sterk deur en hy tree ongelukkig op soos ‘n demagoog met ‘n eie agenda en nie soos ‘n verantwoordelike provinsiale LUR vir onderwys wat na al die leerlinge in sy provinsie moet omsien nie, ongeag die taal wat hulle praat.
“Die VF Plus is nogtans sterk gekant teen die beoogde wysigings aan die Skolewet aangesien dit skole se taalbeleid uit die hande van die gemeenskap gaan neem.
"Die sentralisasie van mag is ondemokraties en kom neer op onteiening van die demokratiese regte van ouers oor hul kinders se onderrigomgewing wat die ergste vorm van onteiening kan wees in ‘n grondwetlike demokratiese bestel.
Dit druis in teen die letter en gees van die Grondwet."
"'n Volledige oudit moet plaasvind om vas te stel of LUR’e van regoor die land wel nuwe skole bou en hoe die geld wat hulle ontvang werklik aangewend word."
Albert sê die VF Plus stem saam met die minister dat ‘n gebrek aan onderwys-infrastruktuur ‘n groot probleem is, maar gemaan dat genoeg skole gebou kan word om alle tale te akkommodeer sonder om ‘n enkele taal te benadeel.
Die minister kon nie antwoord op Alberts se vrae oor nuwe geboue en of dit voldoen aan die behoeftes in Gauteng en nasionaal nie en moes die inligting aanvra.
"Dit beteken dat enige druk wat op enige Afrikaanse skole geplaas word om anderstalige leerders in te neem irrasioneel en aanvegbaar is, want hoe kan daar bepaal word of daar ‘n behoefte is om Afrikaanse skole te dwing om oop te maak indien daar nie data bestaan oor nuwe skole nie?"
Dit sluit aan by die kwessie aan dat nuwe skole in Gauteng en moontlik nasionaal nie gebou word ingevolge die infrastruktuur-begroting wat elke jaar aan provinsies toegedeel word nie.
Alberts sê daar sal ‘n volledige oudit moet plaasvind om vas te stel of LUR’e van regoor die land wel nuwe skole bou en hoe die geld wat hulle ontvang werklik aangewend word.
“Sonder sodanige oudit sal Afrikaanse skole onder beleg bly nieteenstaande die welluidende versekerings van die minister. Die VF Plus stel voor dat ‘n onafhanklike oudit in dié verband so gou moontlik gedoen word,” sê adv. Alberts.