Die VF Plus stem saam met die bruin gemeenskap van Mitchells Plain wat die skuld vir die geweldpleging die afgelope paar dae op die skouers van die ANC-regering pak.
Die gemeenskap het Dinsdag die siening van die VF Plus gehuldig dat mense van veral die Oos-Kaap in groot getalle toegelaat word om ongehinderd na die Kaapse metro te stroom, hulle in informele nedersettings vestig en dan aandring op gratis dienste en behuising terwyl daar ‘n ewe groot nood onder gevestigde, plaaslike gemeenskappe bestaan.
"Dit het nou ‘n plofbare situasie geskep tussen bruin inwoners van Mitchells Plain en inwoners van ‘n swart nedersetting wat op sommige plekke slegs deur ‘n straat geskei word. Daar was reeds gevalle van botsings en klipgooiery tussen die groepe," sê Corné Mulder, VF Plus-provinsiale leier in die Wes-Kaap.
Ontevrede inwoners van Mitchells Plain het Woensdag in direkte televisie-uitsendings gesê hulle woon reeds baie jare in dié woongebied, betaal belastings en vir dienste en ervaar self ‘n groot behoefte aan behuising.
Die mense sê dit is onregverdig dat hulle moet betaal en ‘n bydrae tot die ekonomie van die streek lewer terwyl nuwe instromers in hul woongebied “afbrand, plunder en geweld pleeg” indien hulle nie sonder meer gratis dienste en huise kan kry nie.
Nie net die ANC nie, maar ook die DA-beheerde stadsraad moet skuld vir die plofbare situasie kry. Indien toegelaat word dat mense instroom, moet voorsorg getref word om na hulle om te sien.
Dit word nie gedoen nie en die VF Plus doen ‘n beroep op die metro om hierdie lank voortslepende situasie onmiddellik en met groot erns aan te pak aangesien dit die potensiaal het om buite beheer te raak.
Mense wat twyfel oor die DA se argeloosheid oor ongebreidelde instroming en plakkery, kan bloot om die parlement en deur die Kompanjiestuin stap om te sien hoe erg die situasie reeds in die hart van Kaapstad is.