Die Vryheidsfront Plus is verbind tot menseregte en glo daarin dat menseregte en gelyke regte in Suid-Afrika bevorder moet word.
"Mense moet egter eerlik wees oor menseregte en moet alle aspekte daarvan erken, en nie selektief wees nie, anders is hulle skynheilig oor menseregte," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Wanneer daar in Suid-Afrika gepraat word oor menseregte, moet die gesprek begin word by wedersydse respek. Die mense van Suid-Afrika moet leer om wedersydse respek te hê vir mekaar se verskille, geskille, taal en kultuur. Daar kan nie van menseregte sprake wees as een groep ‘n ander probeer domineer en oorheers nie.
"Wat ons egter nou in Suid-Afrika ervaar, veral oor die grondonteiening-aangeleentheid, is ‘n poging tot swart oorheersing en ‘n meerderheid wat die minderheid boelie. Een van die eienskappe van ‘n verteenwoordigende demokrasie is juis dat die meerderheid respek moet hê vir minderhede en hul regte.
"Artikel 17 van die Verenigde Nasies (VN) se Deklarasie oor Menseregte lui dat elkeen die reg het om eiendom privaat-, en saam met ander mense, te besit. Niemand mag op ‘n arbitrêre wyse van sy eiendom ontneem word nie. Suid-Afrika se eie grondwet bepaal duidelik in art 25 dat geen onteiening sonder vergoeding kan plaasvind nie.
"Die aanvaarding van die mosie oor onteiening sonder vergoeding in die parlement is ‘n skending van menseregte en die feit dat die ANC dit ondersteun het, is bewys dat hy selektief menseregte erken en wil toepas," sê Groenewald.