"Die onvermoë van die ANC-regering om basiese begrotingsbeginsels te verstaan en toe te pas is verbysterend. Die begrotingsproses waardeur die munisipaliteit jaarliks gaan is ‘n vrugtelose oefening aangesien miljoene rande jaarliks in elk geval in die vorm van ongemagtigde uitgawes bestee word," sê Devar Smit, VF Plus-raadslid in die Mangaung-metro-munisipaliteit.
Smith sê sodanige uitgawes word dan onder die vaandel van noodsaaklikheid aan die metroraad voorgelê vir die nodige goedkeuring in terme van die Munisipale Finansiële Bestuurswet, waar ANC-raadslede die goedkeuring stoomroller en die afwyking van die begroting en noodsaaklike gepaardgaande prosedures bloot onder die mat ingevee word.
Gedurende ‘n spesiale raadsvergadering Dinsdag is nagenoeg R129 miljoen se ongemagtigde operasionele uitgawes, wat hoofsaaklik uit oortydbetaling bestaan, asook ongeveer R40 miljoen se kapitale uitgawes aan die raad voorgelê vir goedkeuring.
"Daar word niks tot die voordeel van die gemeenskap van Mangaung gedoen nie"
Ongemagtigde uitgawes mag slegs aangegaan word indien dit noodsaaklik is, soos deur die MFMA bepaal, maar ‘n deel van die kapitale uitgawes is onder andere vir die aankoop van ‘n plaas aangewend wat vir die ontwikkeling van ‘n begraafplaas aangekoop is.
Smit sê dit is was nie nodig nie. Die munisipale bestuur was veronderstel om so ‘n ontwikkeling in die begrotings- en beplanningsproses in te werk.
Nie-kontantuitgawes van nagenog R2,4 miljard is ook deur die ANC-beheerde metroraad goedgekeur. Die strekking van die ongemagtigde uitgawes is vanaf 2011 tot 2018, met die meerderheid daarvan vir die tydperk tussen 2016 en 2017.
"Kiesers moet besef dat die ANC slegs vir eie gewin regeer. Elke besluit wat hierdie onbevoegde regering maak spruit of uit totale onkunde of uit hul selfdienende- en selfverrykende neigings.
"Daar word niks tot die voordeel van die gemeenskap van Mangaung gedoen nie.
"Kiesers moet die ANC vir hul wanbestuur by die stembus straf deur vir bevoegde partye, soos die VF Plus, te stem.
"Die VF Plus slaan terug teen wanbestuur en korrupsie en sal nie sulke blatante vermorsing en verontagsaming van die wetgewing toelaat nie," sê Smit.