"Soos elders in die land huiwer plaaslike regerings in Limpopo op die rand van totale ineenstorting," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van samewerkende regering en tradisionele sake.
"Tydens 'n besoek van die parlementêre portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA) aan dié provinsie, het dit duidelik geblyk dat plaaslike regering verval het tot blote krisisbestuur en dat daar van professionele, volhoubare regering nie meer sprake is nie.
"Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die gevolge van skadelike beleid soos regstellende aksie (RA). Geen beplanning vind plaas nie, kritieke poste word nie gevul nie en totaal onbevoegde mense word weens kaderontplooiing aangestel."
"Boonop word daar nie opgetree teen bestuurders wat hulle skuldig gemaak het aan korrupsie en bedrog nie. So ontvang munisipale bestuurders wat onwettig belastinggeld in die VBS-skema gestort het, 'n jaar na hul skorsing steeds volle salarisse en voordele met geen aanduiding van wanneer en hoe hulle aanspreeklik gehou gaan word nie.
"Dit kom daarop neer dat hulle goue handdrukke ontvang vir hierdie onreëlmatige belegging in VBS. Die gevolg van hierdie situasie is die verval van basiese dienste soos riolering en die vernietiging van infrastruktuur.
"Dit is besig om vinnig te lei tot toekomstige probleme soos omgewingsbesoedeling met gepaardgaande gesondheidsgevare wat haas onmeetbaar gaan wees.
"Dit is 'n absolute skande dat die ANC-regering skynbaar volhou met die beskerming van korrupte kaders ten koste van die mense van Limpopo. Die VF Plus sal met groter seggenskap in plaaslike regering toesien dat hierdie haglike situasie reggestel word," sê Groenewald.