fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Kunsuitstalling by Grantleigh Curro-skool: Onderwys is nooit waardevry nie

"Die VF Plus deel die ontsteltenis van Christen-groepe rakende die kunswerke van 'n leerling aan die Curro-skool Grantleigh in Richardsbaai. Dié voorval plaas weereens klem op die spanning tussen gemeenskappe se gevestigde waardestelsels en die radikale individualisme van die liberale ideologie," sê dr Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van basiese onderwys.

"In die aanloop tot die oorgang van 1994 het VF Plus hom vir groepsregte beywer, wat ruimte vir kultuur- en geloofsgemeenskappe skep waar hul oortuigings gehandhaaf kan word.

"Onderwys en opvoeding is juis in daardie konteks van groot belang. Die destydse NP en DP het egter die radikale individualisme van die liberale regstaat verkies. Kragtens daardie ideologie is dit nie net onderwys in Afrikaans wat wegkalwe nie, maar ook onderwys op 'n Christelike grondslag.

"Dit is ironies dat hierdie voorval by 'n skool voorgekom het, wat op 'n Christelike etos aanspraak maak.

"Dit is belangrik om daarop te let dat die skool hierdie kunswerk verduidelik as kritiek op die wyse waarop godsdiens beoefen word en nie op God, of Jesus self nie. Terwyl die kunstenaar onderneem het om in besonderhede elke kunswerk te verklaar, sou dit raadsaam wees om hierdie verduideliking reeds vooraf te voorsien.

 

"Die sterk negatiewe reaksie van die Christelike geloofsgemeenskap kan nie onverwags wees nie. Dit is ooglopend dat die kunstenaar bedoel het om die kykers te skok. As daardie kykers die ouers en leerders van 'n Christelike opvoedkundige instelling is, is dit belangrik om die gesprek met omsigtigheid aan te pak."

 

"Terwyl die VF Plus hom nie vir sensuur beywer nie, is verskillende aspekte vir die party problematies. Indien vertoning van die ou Suid-Afrikaanse vlag byvoorbeeld 'n hofbevel kan uitlok, sou mens verwag dat ander groepe, soos Christene, se oortuigings ook sensitief hanteer word. 

"Die VF Plus hou openbare reaksie op hierdie kunsuitstalling met belangstelling dop, terwyl die party sy toewyding aan onderwys en opvoeding met 'n Christelike aard herbeklemtoon," sê Boshoff.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.