Staatsamptenare wat met volle salaris geskors is, kos die staat jaarliks miljoene rande. ’n Groot aantal ontvang reeds langer as ses maande – en in sommige gevalle langer as ‘n jaar – steeds hul volle salaris terwyl die sake teen hulle sloer.
Dit blyk uit die antwoorde op parlementêre vrae van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, aan onderskeie staatsdepartemente.
Tot dusver het net agtien van die 36 departemente antwoorde op die vrae verskaf.
Uit gedetailleerde antwoorde wat die polisie verskaf het, blyk dit dat drie luitenant-generaals (lt.genl.) en twee generaal-majoors (genl.maj.) onder die 51 polisielede is wat teen 1 Junie vanjaar met volle salaris geskors was.
Een van die generaals is lt.genl. Khomotso Phahlane wat ‘n jaar gelede geskors is weens verskeie aanklagte van korrupsie. Die strafsaak teen Phahlane is op 7 Junie vanjaar teruggetrek, maar kan moontlik hervat word wanneer die ondersoek afgehandel is.
Uit die antwoord blyk dit ook dat genl.maj. Phahlane se eggenote, brig. Beauty Phahlane, nie geskors is nie alhoewel sy saam met hom op al die aanklagte tereg staan. Die aanklagte spruit uit ‘n korrupte verhouding met ‘n sakeman, mnr. Durand Snyman.
Die ander generaals wat geskors is, is lt.genl. A. Shezi en -P.A. Ramikosi, en genl.maj. M.O. Nemutanzhela en -T.G. Phefo. Laasgenoemde twee is ook reeds langer as ses maande geskors met volle betaling.
Dit blyk ook dat sewentien polisielede op 24 April vanjaar gesamentlik geskors is. Dit sluit in twee kapteins en vyftien konstabels.
Daar is tans altesame 51 polisielede teen volle salaris geskors wat die staat tot en met 1 Junie vanjaar R4 600 000 gekos het. Net drie van hulle se skorsing duur reeds langer as ses maande.
Daarteenoor is daar tans 31 lede van die weermag geskors waarvan vyftien reeds langer as ses maande. Tot en met 1 Junie vanjaar kos dié geskorste lede die belastingbetaler reeds R17 169 717.
Opvallend is dat daar vier persone in die presidensie geskors is en dat drie van hulle se skorsingstermyn minder as vier maande beloop het teen 1 Junie. Net een van hulle was (teen 1 Junie) vir langer as ses maande geskors.
Tog beloop die salarisbedrag in dié geval R3 305 362 teenoor R4 600 000 vir 51 polisielede wat vyf generaals insluit.
Die VF Plus sal ‘n opvolgvraag aan die departement stel om vas te stel wie die enkele persoon in die presidensie is wat langer as ses maande geskors is, en hoe lank die skorsing reeds duur om die groot uitgawe te verduidelik.
Die groot aantal skorsings, veral in die polisie en die weermag, is uiters kommerwekkend en dui op onbevoegdheid en gebrekkige opleiding en dissipline in ‘n militêre omgewing.
Die rede hiervoor sal gevind word in die skade wat Regstellende Aksie (RA) op elke terrein in Suid-Afrika aangerig het om die ANC se vernietigende beleid ter wille te wees.