fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Kommer oor polisie, paaie en vervoer in die Vrystaat

Die gevolge van Vrystaatse munisipaliteite se swak finansies kring al wyer uit en belastingbetalers in die Vrystaat betaal effektiewelik dubbel vir padherstelwerk.

Die departement polisie, paaie en vervoer het Woensdag aan die openbare rekeningekomitee in die Vrystaatse wetgewer erken dat munisipaliteite se paaie herstel word uit fondse wat vir provinsiale paaie aangewend moet word.

Dit is een van die redes waarom die departement se oudit-uitkoms vir die 2017-2018 finansiële jaar verswak het tot ‘n gekwalifiseerde opinie.

"Die VF Plus is veral besorg oor onreëlmatige uitgawes wat van R17,4 miljoen in die vorige boekjaar toegeneem het tot R1,64 miljard in 2017-2018," sê Tammy Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaat.

"Betalende inwoners verdien munisipaliteite wat hul geldsake bestuur tot voordeel van inwoners"

 

Die departement het in antwoord hierop aangedui dat hy paaie in dorpe regoor die provinsie herstel as gevolg van sukkelende munisipaliteite se kontantvloeiprobleme. Herstelwerk word gevolglik nie deur munisipaliteite gedoen nie en die departement vervul nou hierdie funksie in dié munisipaliteite.

"Betalende inwoners betaal dus munisipale tariewe én belasting om ons dorpe en stede se paaie herstel, terwyl verswakkende provinsiale paaie geen aandag kry nie," sê Wessels.

Die staatsgarage in die provinsie sukkel ook glo om geld uit munisipaliteite en departemente te kry vir die gebruik van die departement se voertuie.

Die VF Plus sal ‘n verslag in dié verband in die openbare rekeningekomitee aanvra om te bepaal wat die omvang van agterstallige skuld deur munisipaliteite aan die departement is.

Die departement is egter nie heeltemal onskuldig nie.

Wessels sê die OG wys In sy verslag daarop dat die LUR, Sam Mashinini, se gebrek aan politieke leierskap die oorsaak is dat wetlik-vereiste finansiële en werksverrigtingverslae nie akkuraat en volledig opgestel is nie.

"Die feit dat die departement die afgelope jaar ook nie daarin kon slaag om ‘n hoof-finansiële beampte aan te stel nie, wys op ‘n gebrek aan ‘n politieke wil en bestuur in die departement.

"Die VF Plus verwelkom herstelwerk aan paaie. Die feit dat sukkelende munisipaliteite nie daartoe in staat is om hulle eie infrastruktuur in stand te hou nie, wys dat ANC nie toesien dat munisipaliteite hul verantwoordelikhede teenoor inwoners nakom nie.

"Betalende inwoners verdien munisipaliteite wat hul geldsake bestuur tot voordeel van inwoners, terwyl geld wat vir provinsiale paaie bestem is, uitsluitlik daarvoor aangewend word," sê Wessels.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.