Daar wag reuse werk vir minister Pravin Gordhan om die departement van openbare ondernemings reg te ruk. Om die tentakels van alle staatskapers af te sny, gaan nie ‘n maklike taak wees nie. Boonop klou die tentakels van ‘n seekat nog lank nadat die kop verwyder is.
"Dit is ironies dat dié departement met sy talle staatsondernemings wat die kern van die ANC se ontwikkelingstaat daarstel en tot die ontwikkeling-sukses van die land moes lei, die mees gekaapte departement geword het. Die voordele van die sogenaamde ontwikkelingstaat het uiteindelik na sekerlik minder as vyftig mense gevloei uit ‘n bevolking van 56 miljoen of meer," het adv Anton Alberts, VF Plus parlementêre woordvoerder vir openbare ondernemings gesê.
Alberts het Vrydag tydens die begrotingstem van dié departement gesê Suid-Afrika het ‘n sentraal-beplande en -beheerde ekonomie waar die staat skeidsregter en speler is, in stede daarvan dat hy 'n stabiele en gesonde omgewing skep waarbinne die private sektor kan groei en werk skep. Om dit te vermag, kan die staat nie ook 'n speler wees nie, behalwe waar hy as openbare ontwikkelaar optree.
"Dit is byna seker dat die SAL vandag winsgewend sou wees indien dit onder private bestuur was. Aangesien die redery egter 'n openbare onderneming is, kan hy voortgaan om gebrekkig te funksioneer sonder vrees vir sluiting of aanspreeklikheid.
"Die VF Plus gaan ‘n versoekskrif namens Solidariteit aan die parlement voorlê waarin versoek word dat daar nie meer geld in reddingsaksies op die SAL gemors word nie en dat die redery onder sakeredding geplaas word en in sy geheel, of gedeeltelik, geprivatiseer word.
"Die probleme by die SAL, Eskom, Transnet, Prasa en elders is 'n duidelike aanduiding dat staatsentiteite hul eie belange dien en nie werklik daar is vir die publiek nie. Die meeste van die entiteite lewer ‘n nuttige diens, maar gegewe wêreldwye tegnologiese vooruitgang en groeiende sakevernuf, is dit nie nodig dat dit onder staatsbestuur bly nie.
"Teen hierdie ekonomiese agtergrond is die departement in werklikheid nie eens nodig nie en moet entiteite wat nie geprivatiseer word nie, deur hul funksionele departemente bestuur word.
"Dit is hartseer dat staatskaping nie net die staatsondernemings geraak het nie, maar dat dit ook ‘n omgewing geskep het waar die pensioenfondse van die entiteite ook wanbestuur en in sommige gevalle geplunder is, soos wat met Transnet se pensioenarisse gebeur het.
"Die wetgewing wat die pensioenfondse reguleer het dit moontlik gemaak dat geweldige wanpraktyke kon plaasvind met erge gevolge vir die verarmde pensioenarisse. Die VF Plus vra daarom dat die minister ‘n pensioenfondsberegter aanstel vir oorsig oor alle pensioenfondse van staatsondernemings.
"Die VF Plus vind dit bemoedigend dat die regering tans ‘n skikking in die Transnet-pensioensaak oorweeg," het Alberts gesê