Die VF Plus is bekommerd oor Gauteng se ekonomie wat teen die afgrond staan en die provinsiale regering sal nou stabiliteit in die provinsie moet skep om meer buitelandse beleggers te lok om sodoende rampspoedige gevolge te vermy.
Gauteng se bevolking het die afgelope jaar toegeneem en staan nou op 14.7 miljoen. Dit kan toegeskryf word weens die ontvolking van die platteland en mense wat van heinde en verre oor Afrika na Gauteng stroom om ‘n bestaan te maak.
"Dit plaas geweldige druk op die provinsie se infrastruktuur, behuising en dienste in die algemeen. Die gesondheidsdiens bedien meer as 20 miljoen mense per jaar en die getal leerders het toegeneem tot 2.3 miljoen," sê Philip van Staden, VF Plus-LPW in Gauteng.
Soveel as 95% van die provinsie se totale inkomste vir die 2019/20 finansiële jaar van nasionale tesourie afkomstig is. Nasionale tesourie dra R125 miljard by tot die provinsie se totale begroting van R132 miljard.
Van Staden sê die provinsie se eie inkomste is maar ‘n skamele 5% wat neerkom op R6.3 miljard.
"Hierdie inkomste word hoofsaaklik gegenereer deur motorvoertuig-lisensies, belasting op dobbelary en weddenskappe, verkope van goedere en dienste en geringe ander inkomste.
"Die VF Plus is van mening dat die Gautengse regering daadwerklike planne op die tafel sal moet plaas om toe te sien dat probleme rondom veiligheid, infrastruktuur, paaie, behuising, onderwys, plaaslike regering en ander kwessies daadwerklik aangespreek en opgelos word om die provinsie lewensvatbaar en aantreklik te maak vir buitelandse beleggers om sodoende die provinsie se koffers aan te vul.
"Gauteng het geen keuse as om daadwerklik op te tree nie aangesien hy nie onbepaald op die hulp van nasionale tesourie kan staatmaak nie. Dringende, voldoende en uitvoerbare planne sal onverwyld gemaak en in werking gestel moet word om inkomste te genereer.
"Die provinsiale regering gaan in groot moeilikheid beland indien nasionale tesourie se geldkraan toegedraai word.
"Gauteng se regering sal sy denkwyse en die rigting waarin hy beweeg moet verander om meer besigheidsgerig te wees in stede daarvan om bloot die ANC ter wille te wees.
"Kiesers moet terugslaan teen ‘n onbevoegde regering en die ANC by die stembus straf in Mei," sê van Staden.