Die VF Plus veroordeel ten sterkste die anargie veroorsaak deur die EFF in gister se raadsvergadering van die Mangaung-metroraad.
"Die aanhoudende onbehoorlike optrede deur die EFF, wat op ‘n spits gedryf is toe vyf lede gelyk op die Speaker van die raad geskree het, het daartoe gelei dat sekuriteit ingeroep is om die oproerige lede te verwyder," sê Elizabeth Snyman-Van Deventer, VF Plus-raadslid in die Mangaung-metro.
"Die EFF se herhaaldelike wangedrag bewys dat die party hom nie vir die beste belange van hul kiesers en die gemeenskap van Mangaung beywer nie, maar eerder vir eie en politieke gewin.
"Die EFF poog geensins om sinvol aan die vergaderings deel te neem nie en die ANC is nie daartoe in staat om hulle of ander raadslede te beheer nie. Selfs na die EFF uit die raad verwyder is het wanorde steeds geheers.
"Belangrike werk wat deur die raad verrig moet word, soos die aanstelling van ‘n hoof van finansiële dienste, word dus nou vir ‘n derde keer uitgestel omdat raadslede nie die belange van die gemeenskap en munisipaliteit eerste stel nie, maar eerder wedywer vir goedkoop politieke punte.
"Die VF Plus sal nie skroom om terug te slaan teen wanorde waar belangrike besluite vir ons inwoners geneem moet word nie. Die VF Plus sal amptelik versoek dat dissiplinêre optrede teen die skuldiges geneem word," sê Syman-Van Deventer