fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

DA en ANC stem teen mosie van VF Plus wat vra dat kultuurhistoriese gedenkwaardighede beskerm word

Die DA-beheerde Stad Kaapstad het die ANC gesteun om ‘n mosie van die VF Plus te verwerp waarin onder meer gevra word dat kultuurskatte soos standbeelde beskerm word, en dat streng opgetree word teen persone wat dit beskadig, sê mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad.

Mnr. Fourie sê hy is uiters teleurgesteld in die Stad Kaapstad se optrede aangesien selfs Suid-Afrika se Grondwet erkenning gee aan almal wat bygedra het om die land uit te bou en te ontwikkel. Die volledige mosie lui:

“Dat die raad ernstig kennis neem van die skending van kultuurhistoriese geskiedkundige monumente, standbeelde en gedenktekens wat dwarsdeur Suid Afrika aan die orde is;

Dat die raad verder kennis neem dat sulke skendings oor die kulturele- politieke- en godsdienstige-grense van die verlede strek – van Cecil John Rhodes, Mahatma Ghandi, Dick King, Louis Botha, Jan Smuts, Jan en Maria van Riebeeck, Paul Kruger, Andrew Murray en selfs ‘n beeld ter ere van perde wat in die Anglo-Boere-oorlog diens gedoen het;

Dat die raad dringende stappe neem om te verseker dat verdere sulke skendings en miskennings binne sy grense beperk sal word met voldoende voorsorgmaatreëls in plek en dat daar daadwerklik opgetree sal word teen enige oortreders;

Dat die raad herbeklemtoon dat ingevolge die 1996-Grondwet van die Republiek van Suid Afrika se aanhef daar erkenning verleen word om respek te betoon teenoor diegene wat hard gewerk het om hierdie land op te bou en te ontwikkel en glo dat Suid Afrika aan almal behoort wat in hom woon, verenig in ons diversiteit;

Dat die raad verder sy ondersteuning verleen tot die aanhef van die 1996-Grondwet waar verwys word na die erkenning van die onreg van die verlede en eer betoon word aan diegene wat gely het vir geregtigheid en vryheid; en

Daarom sal voorstelle vir die byvoeging van monumente, standbeelde en gedenktekens op meriete oorweeg word vir diegene wat in die verlede misken is sonder om die geskiedenis oneer aan te doen.” (Einde van mosie).

In sy voorlegging aan die raad van die Stad, het mnr. Fourie gesê meer as die helfte van die infrastruktuur op die vasteland van Afrika word in Suid-Afrika aangetref, iets wat nie moontlik sou wees sonder die invloed en bydraes van almal wat die land die afgelope 350 jaar bewoon het nie.

“Feitlik alle infrastruktuur in Suid-Afrika, van spoorlyne, telefoonlyne, elekrisiteitsaanlegte, teerpaaie, opgaardamme, hawens, landbou-, nywerheids- en handelsontwikkeling, dorpe, stede, skole, universiteite, Yskor, Eskom en ander staatsinstellings, die Uniegebou en parlement, provinsiale wetgewergeboue, die staatsdiens en staatsgeboue, myne en versekeringsgroepe, is in dié tyd opgebou.

“Dit alles is in 1994 net so aan die nuwe Suid Afrika oorhandig. Nogtans is gedenkwaardighede wat hierdie verhaal vertel, tans onder die aanslag van wilde aansprake. Sommige mense en groepe blaas doelbewus verdeeldheid aan deur slegs op die negatiewe aspekte van die geskiedenis te fokus.

“Daar was nie net ‘n ‘Big Bang’ en alles het skielik hier gestaan nie. Nee, daar is hard gewerk om dit hier te stel, en ons Grondwet gee erkenning daaraan. Daarom is die teleurstelling soveel groter dat die DA wat die Stad Kaapstad beheer, nie hierdie siening deel nie.

“Wit en bruin is direkte afstammeling van mense soos Jan van Riebeeck wat na die land gekom het. Ons bydraes op alle gebiede, ons belastinggeld, kundigheid en entrepreneurskap is goed genoeg, maar nie ons kultuur en geskiedenis nie.

“Die VF Plus sal enige poging wat daarop gemik is om simbole van die land se geskiedenis, en in die besonder die geskiedenis van die Afrikaner te relegeer tot iets wat agter slot en grendel in ‘n ‘Boere Jurassic Park’ toegesluit moet word, ten sterkste teenstaan,” sê mnr. Fourie.

 

Kontaknommers: 083 441 9262 / 083 419 5403

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.