'n Groep sakemanne vanuit België het Suid-Afrika die afgelope week besoek om hulself meer bewus te maak van blanke-armoede en plaasmoorde wat tans soos 'n kanker aan Suid-Afrika knaag.
Hierdie groep, wat nie van 'n politieke organisasie in België is nie, het spontaan besluit om self met 'n bewusmakingsveldtog onder die mense van Europa te begin om Europeërs meer bewus te maak van wat werklik met die minderhede in Suid-Afrika aan die gang is, hoe Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en ander rassistiese wetgewing wit Suid-Afrikaners die afgelope 24 jaar in algehele armoede gedompel het en ook hoe plaasboere aangeval en vermoor word.
Die afvaardiging het by die VF Plus kom aanklop en die party se LPW in Gauteng, Philip van Staden, asook die onderleier in die provinsie, Kobus Hoffman, het hulle die afgelope week gaan wys hoe lyk blanke armoede in die weste van Pretoria, die Meyerton-omgewing asook blanke plakkerskampe aan die Wesrand van Gauteng.
Slagoffers wat plaasaanvalle oorleef het in die provinsie is ook besoek om die wreedheid waarmee plaasaanvalle gepaard gaan eerstehands aan die Belge oor te dra. Slagoffers van hierdie aanvalle het die afvaardiging meegedeel dat die aanvallers heeltyd woorde aan hul geuiter het soos: "We are going to kill you! You stole our land! You will be taught a lesson!".
Die besoekers was uiters geskok na wat hul gesien en ervaar het en hulle gaan nou intensief in Europa die publiek inlig van wat die omvang van sake in Suid-Afrika werklik is. Opvolgbesoeke gaan later in die jaar plaasvind met 'n groter afvaardiging.
"Die VF Plus gaan ook nou saam met hierdie sakemanne werk om slagoffers van plaasaanvalle by te staan en ook om armoedeverligting na Suid-Afrika te bring.
Die VF Plus het die afgelope tyd verskeie besoeke aan Europa, Amerika en Australië gebring om die internasionale gemeenskap in te lig oor armoede en plaasmoorde asook moorde in stedelike gemeenskappe.
Die VF Plus sal nie ophou met internasionale aksies nie en sal voortgaan met veldtogte na ander lande," het van Staden gesê.