DEBAT : GAUTENG PREMIER SE OPENINGSREDE
PHILIP VAN STADEN, LPW VRYHEIDSFRONT PLUS
DONDERDAG : 26 FEBRUARIE 2015
Geagte Speaker, Premier, LUR’e, Leiers van politieke partye en lede
Met die premier se Openingsrede die afgelope Maandag, kon die VF Plus nie glo wat ons gehoor het nie. Die premier se rede was skokkend en lagwekkend gewees.
Die toespraak wat ons die afgelope Maandag gehoor het, was maar net ‘n bietjie afstofwerk wat gedoen was op verlede jaar se provinsiale rede.
Die premier het baie groot ekonomiese planne vir Gauteng aangekondig vir die volgende vyf jaar, maar ons moet maar vandag eerlik wees dat die premier se plan van aksie nie haalbaar gaan wees nie. Oor vyf jaar is die premier nie eers meer in sy amp nie en dan gaan hierdie mooi beloftes en planne maar net nog êrens op ‘n rak lê en stof opgaar. Die VF Plus sou graag wou sien dat die premier tydlyne hieraan sal koppel wat nie oor vyf jaar strek nie maar oor vier jaar. Hierdie planne moet gebeur voor die einde van die termyn in 2019. Die VF Plus is van mening dat geen een van hierdie planne gaan realiseer nie.
Die premier se aankondiging dat ‘n groot hoeveelheid behuising opgerig gaan word regdeur die provinsie, word verwelkom. Die totale projek beslaan 680 000 huise. Die feit van die saak is dat die behuisingsagterstand in Gauteng alreeds op 800 000 staan. Net om die agterstand in te haal moet daar ongeveer 13 333 huise per jaar gebou word in hierdie provinsie. Dan praat ek nog nie eers van die infrastrukture wat opgerig gaan moet word om hierdie huise te akkommodeer nie. Instede daarvan om die infrastruktuur-ontwikkeling se plan van uitbreiding bekend te maak, het die premier eerder aandag gegee aan die uitbreiding van die Gautrein en die BRT-busse in Gauteng.
Speaker, die premier het ‘n dowe oor gedraai op die afkondiging van ‘n noodtoestand in hierdie provinsie. In stede daarvan het die premier die afgelope Maandag die kant gekies van vreemde buitelanders bo dié van sy provinsie se eie inwoners. Die premier is meer bekommerd oor die behandeling van buitelanders, wat dalk nog in elk geval onwettige immigrante is, as die probleme waarmee sy eie mense daagliks te doen het.
Die premier het ook geen woord gerep van optrede teenoor die metropolisie en provinsiale verkeersbeamptes wat weens rassistiese dade vroue en kinders teiken en hardhandig behandel nie. Dit is ‘n bron van algehele kommer. Die premier het ook nie bekend gemaak wanneer en hoe daar by die opleiding van metropolisie beamptes ingegryp gaan word nie, want speaker, swak opleiding veroorsaak dat wet en orde in hierdie provinsie daagliks aan die verval is.
Geen daadwerklike plan vir die bekamping van misdaad is op die tafel geplaas nie. Moorde vind plaas in die stede en landelike gebiede van Gauteng en die agbare premier het net genoem dat binnegevegte in die SAPD in Gauteng, die bekamping van misdaad lam lê.
Die VF Plus verwelkom die oprig van nuwe hospitale in die provinsie, maar wanneer gaan daar ingegryp word by hospitale soos Atteridgeville, Steve Biko, Mamelodi en Helen Joseph, waar mense daagliks sterf weens nalatigheid van hospitaal-personeel? Dan praat ek nie eers van rassistiese voorvalle wat die afgelope week plaasgevind het nie.
Geen plan is op die tafel geplaas vir die ingryping by lisensiekantore in Gauteng waar korrupte amptenare besig is om hul daaglikse bose planne te smee nie. Hierdie is ‘n baie kommerwekkende probleem.
Geagte Speaker en Geagte Premier
Die grap van die jaar was toe die premier Maandag aangekondig het dat die kweek van garnale in die Wesrand oor ‘n periode van drie jaar in werking gestel gaan word. Mnr die premier, ons bly nie langs ‘n kusgebied nie. Die kuslyne is aan die ooste meer as nege ure se ry hiervandaan, in die suide 13 ure en aan die weskus meer as 11 ure vanaf Gauteng geleë. Hoe wil u die garnale hier kry om mee te teel? Gaan hul vanself hierheen vlieg? Nog ‘n projek van die premier wat nie gaan werk nie.
Maar Speaker, die grootste grap van 2015 was toe die premier Maandag aangekondig het dat die armoede-kwessie in Gauteng aangespreek gaan word met die uitdeel van kospakkies. U kan nie armoede wegwens nie. U kan nie armoede deur middel van kospakkies uitwis nie. Armoede is ‘n kwessie wat daadwerklik aangespreek moet word en nie uitgebrei moet word nie. Leer eerder die arm mense van Gauteng hoe om vis te vang as om hul elke dag vis te voer. Dit mnr die premier, kan net gebeur as u regering meer vriendelik teenoor buitelandse beleggers en die privaatsektor optree sodat meer industrieë kan ontwikkel en meer werksgeleenthede geskep kan word. Maar ek is bevrees dat die buitelandse beleggers nie meer in Suid-Arika gaan belê nie want u president se toespraak het dit duidelik gestel dat buitelanders nie meer welkom is om grond in Suid-Afrika te besit nie.
Nou Speaker, vir my persoonlike gunsteling: die E-tol. Die VF Plus het so gehoop dat die premier Maandag sou aankondig dat die E-tol geskrap is, maar ten spyte van miljoene rande wat gemors is op konsultasie-prosesse sedert Oktober 2014, het die premier net aangekondig dat E-tol meer bekostigbaar gemaak gaan word. Mnr die premier, dit is nie wat die inwoners en sakesektor in Gauteng wil hoor nie. Gautengers wil nie die E-tol hê nie en hul wil ook nie die E-tol betaal nie. Mnr, hierdie E-tol sage en u aankondiging Maandag, het die aanbreek van die einde van u politieke loopbaan bewerkstellig. U sit nou tussen die duiwel en die diep blou see en as ek u was sou ek vandag ‘n bekommerde man gewees het. Skaf u die E-tol af, gaan die ANC op nasionale vlak u in die pad steek. Skaf u nie die E-tol af nie gaan u eie kiesers u in die pad steek in 2019.
Speaker, die premier moes verduidelik het van infrastrukture wat in Gauteng opgerig is vir die bedrag van R79,5 miljoen wat nooit in gebruik geneem is nie. Ek verwys nou na taxi staanplekke in die gebiede van Zandspruit, Bophelong, Leralla en Stretford. Die VF Plus het reeds in Oktober 2014 die LUR van Vervoer versoek om ‘n volledige verslag hieroor uit te reik en tot op hede het ons nog niks ontvang nie.
Die premier het ook niks genoem van strenger optrede teenoor burgemeesters wat nie hul jaarlikse toelae ten volle spandeer nie. Munisipaliteite soos Mogale City, Randfontein en Westonaria, het verlede jaar onderskeidelik slegs 28% en 23% van hul toelae spandeer. Dit is geen wonder dat die mense in opstand kom en geboue begin afbrand nie. Dit is ook seker die rede waarom die Bob van Reenen stadion in Mogale City, nou nog nie herstel is nie. Beloftes wat aan die begin van 2014 gemaak is vir die herstel van hierdie stadion, het nou nog nie gerealiseer nie.
Die VF Plus voel dat die premier sal moet ingryp by die departement van onderwys, nadat afrikaanse skole deur die LUR geteiken is weens sogenaamde rassisme, omrede hul volgens hul grondwetlike reg moedertaal-onderrig toepas.
Geagte Speaker
Ten spyte van al die probleme waarmee ons nou in Gauteng mee te make het, het die premier nie daadwerklik aandag daaraan gegee nie. Instede daarvan, het die premier met trots bekend gemaak dat sinnelose projekte soos die installering van Wi-Fi’s plaasgevind het.
Die premier se toespraak van die afgelope Maandag was skokkend tog lagwekkend.
Mnr die premier, u is nie meer in beheer nie en u is net besig om u voorgeskrewe jaarprogram te volg.
Dankie
084 0154 722