fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Zeerust en Groot Marico beleef perfekte storm met inploffing van munisipale dienste

Inwoners van Zeerust en Groot Marico beleef tans 'n perfekte storm van 'n ineenploffing van munisipale dienste wat veroorsaak is deur jarelange wanbestuur in die ANC-beheerde munisipaliteit.

Die VF Plus het al talle beroepe op die owerhede gedoen om te verseker dat die munisipaliteit onder professionele bestuur geplaas word.

In die afgelope week moes inwoners ervaar hoe selfs die mees basiese dienste tot stilstand kom weens ‘n staking oor oortydbetaling deur munisipale amptenare, sowel as krag-en wateronderbrekings weens die munisipaliteit se wanbetaling aan Eskom.

Tesame hiermee het 'n deel van die gemeenskap ook oorgegaan tot protesoptrede wat die chaos vererger het.

Dit volg op die skorsing van die munisipale bestuurder weens beweerde finansiële wanbestuur, raadsvergaderings wat op die nipper uitgestel word, en weersprekende kommunikasie na raadslede wat tot verdere chaos en onsekerheid gelei het.

Inwoners van hierdie dorpe ervaar reeds jare 'n geleidelike agteruitgang in dienslewering weens die verval van noodsaaklike infrastruktuur. Dit het meegebring dat die VF Plus telkens moes ingryp om basiese dienste soos die herstel van krag-en watertoevoer te verseker.

Die strate word nie in stand gehou nie en so ook nie sypaadjies, rioolinfrastruktuur en munisipale geboue nie. Van die effektiewe invordering van dienstegelde, tot die voorkoming van, en optrede teen onwettige grondbesettings, is daar nie sprake nie.

Wetsgehoorsame belastingbetalers kry bykans geen bystand van munisipale amptenare of wetstoepassers nie. Hierdie stand van sake het die munisipaliteit nou tot op die rand van 'n afgrond gedwing.

Ironies is Zeerust en Groot Marico geleë op een van Suid-Afrika se besige handelsroetes en behoort hierdie dorpe onder meer te dien as voorbeelde van uitmuntendheid om die land se internasionale beeld te bevorder.

Die provinsiale regering het wel by monde van die waarnemende LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Boitumelo Moiloa, onderneem om in te gryp en die munisipaliteit uit sy onmiddellike finansiële verknorsing te help. Sy het ook aangedui dat die provinsiale regering stappe wil neem om die munisipaliteit onder administrasie te plaas.

Die VF Plus het egter al by herhaling, daarop gewys dat die gebruik om munisipaliteite onder administrasie te plaas, nog nooit verbetering meegebring het nie maar telkens net nuwe kanale vir wanbesteding en korrupsie geskep het.

Noordwes se premier, Job Mokgoro, het ook pas die afgelope week die VF Plus in hierdie standpunt ondersteun en onderneem om effektiewe stappe te neem om korrupsie en wanbestuur stop te sit.

Die Ramotshere Moiloa-munisipaliteit bied nou aan die premier die ideale geleentheid om sy woord gestand te doen.

Daar moet nou ook weggedoen word met kaderontplooiing en gefokus word op die aanstelling van bevoegde, professionele amptenare.

Die VF Plus sal aanhou druk toepas om te verseker dat inwoners die dienste kry waarop hulle geregtig is, en aanhou stry om hierdie eens vooruitstrewende dorpe tot hulle volle potensiaal te laat ontwikkel.

Navrae: 073 200 3309

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.