fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Wrede aanval op Hartswater – veiligheid is nou in jou eie hande, maan VF Plus

Die wrede aanval waarin die 81-jarige mnr. John Byles by Tadcaster met grawe aangeval is voor gif oor hom uitgegiet is, is die soveelste wekroep vir veiligheid in die Noord-Kaap.

Dit word steeds duideliker dat selfs hierdie tradisioneel veilige provinsie nie meer die vlaag van landelike geweld ontkom nie. Veiligheid is toenemend 'n gemeenskapsaak waartoe elke individu sy deel moet bydrae.

Die plaasgemeenskap van Tadcaster tussen Jan Kempdorp en Hartswater is deel van die groot Vaalharts-besproeiingskema. Dié verbeeldingryke ontwikkeling is in die jare 30 van die vorige eeu aangepak om die vrugbaar, maar dorre Hartsriviervallei vanuit die Vaalrivier te besproei.

Duisende arm Afrikaners het hulleself hier aan hulle skoenveters opgetrek. Hulle afstammelinge is vandag regoor die land op alle vlakke van die samelewing te vinde, asook in die "skema" self. Daar produseer hulle graan, lusern, olywe, pekanneute en wyn vir die plaaslike en oorsese mark.

Volgens die VF Plus is 'n man van 81 wat steeds vroeg opstaan om sy boerderytaak aan te pak, 'n voorbeeld in 'n land waar werkloosheid epidemiese afmetings aanneem. Pleks dat hy gevier en waardeer word, is hy op só 'n wrede manier aangeval.

Die regering neem aanstoot as plaasaanvalle vir spesiale aandag uitgesonder word, maar dit is moeilik om nié 'n verband tussen openbare aanvalle op wit grondbesit en aanvalle soos hierdie te lê nie.

Die VF Plus wens mnr. Byles spoedige beterskap toe.

 

Kontaknommers: 074 166 5540

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.