Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Vrystaatse Wetgewer – wanfunksioneel; dans na Magashule se pype

Die VF Plus beskou dit as onaanvaarbaar dat die Vrystaatse Wetgewer deur die regerende party tot slegs 'n rubberstempel wat alle funksionaliteit verloor het, gereduseer is.

Die wetgewer het die baie belangrike funksies van oorsig en wetgewende gesag in die provinsie. Hierdie funksies is egter baie laag op die speaker van die wetgewer, me. Mamiki Qabathe, se prioriteitslys aangesien provinsiale wetgewing, soos die belangrike Vrystaat Talewetsontwerp nou al vir meer as drie jaar vertraag is weens wanadministrasie; reëls- en ordes-komiteevergaderings nie plaasvind nie; die speaker niks daaraan doen dat skriftelike vrae aan die uitvoerende gesag binne die voorgeskrewe tyd beantwoord word nie; die datums en tye van sittings eensydig verander om die premier se dagboek te pas en sittings nie volgens die reëls geskied nie.

Die speaker se prioriteite is eerder duur funksies, soos die jaarlikse provinsiale openingsrede en oorsese reise.

Die wetgewer het vir die afgelope vyftien maande geen reëls- en ordes-komiteevergaderings gehad nie. Hierdie komitee is veronderstel om onder andere die finansiële bestuur en administrasie van die wetgewer te bepaal. Die geskeduleerde vergaderings van hierdie komitee word keer op keer eensydig deur die speaker ter elfde uur gekanselleer. So was die komiteevergadering wat vir 5 Mei 2016 om 09:00 geskeduleer was op 4 Mei om 20:00 deur die speaker gekanselleer.

Volgens die VF Plus word besluite tans onreëlmatig en onwettig gemaak om die wetgewer na die pype van die ANC, die uitvoerende gesag en die premier te laat dans. Die speaker is geensins onpartydig nie en sy oortree die reëls, prosedures en beleide van die wetgewer.

Die datum van 'n geskeduleerde sitting van die wetgewer wat ingevolge die reëls en ordes deur die swepekomitee en die programkomitee bepaal is, is eensydig verander om die program van die premier en sy uitvoerende komitee te pas.

Die VF Plus sal dringende stappe oorweeg en met ander opposisiepartye vergader om aksies te bepaal om die speaker te dwing om reëls- en ordes-komiteevergaderings te belê en om onreëlmatige besluite ongeldig te verklaar.

 

 

082 674 6670

 

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.