Terwyl dienslewering in die Vrystaat wesenlik tot stilstand gekom het weens ‘n groot geldtekort, het die Vrystaatse wetgewer onderskeidelik R2,7 miljoen en R4,4 miljoen aan vanjaar se begrotings- en provinsialeredes bestee.
Dít spreek nie van ‘n provinsie wat spaarsamig met belastingbetalers se geld omgaan en dienslewering prioritiseer nie.
Die R7,1 miljoen wat aan die geleenthede bestee is, is slegs die wetgewer se uitgawes en sluit nie die provinsiale departemente se besteding in nie.
Dit is onaanvaarbaar dat die ANC in strawwe finansiële omstandighede hierdie glansgeleenthede voorhou as openbare deelname, terwyl inwoners van die provinsie honger is en by die dag verarm.
Die VF Plus het tydens die aanvang van die Covid-19-pandemie die Vrystaatse regering uitgedaag om vermaak, spyseniering, vervoer en die huur van lokale en geriewe in die komende jare te besnoei en die krane vir luukshede toe te draai.
Die VF Plus het voorheen ook die premier, Sisi Ntombela, gewaarsku dat die party haar fyn dophou en verantwoordbaar sal hou in die hoop dat sy nie haar bynaam as partytjie-premier verder gestand doen nie.
Dit wil egter voorkom of daar steeds ‘n kultuur van spandabelrigheid in die Vrystaat onder haar leierskap heers.
Die VF Plus sal hierdie saak verder voer en ondersoek instel rondom die ware omvang van hierdie uitgawes en sal enige onreëlmatighede ontbloot.


