Vrystaatse munisipaliteite kan nie ‘n "Dag-Zero" vir water bekostig nie en munisipaliteite en die provinsiale regering het ‘n verantwoordelikheid om toe te sien dat water so ver moontlik vir inwoners beskikbaar bly, sê Tammy Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse wetgewer.
Sy sê dit is onaanvaarbaar dat swak tot geen instandhouding en hoë uitstaande skuld aan waterrade, droogtegeteisterde dorpe se watertekorte vererger.
“Die ANC-regering het die afgelope 23 jaar instandhouding en opgradering van waterinfrastruktuur afgeskeep. Miljarde rand gaan verlore weens waterlekkasies, en vervalle watersuiweringsaanlegte bedreig die beskikbaarheid van skoon water.
“Die knellende droogte van die afgelope paar jaar in die provinsie plaas enorme druk op waterverbruikers en dit is die plig van provinsiale en plaaslike owerhede om ‘n vinger op die pols van gebrekkige waterhulpbronne in die provinsie te hou.
“Die VF Plus sal ‘n vraag aan die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Sisi Ntombela, rig om uit te vind wat haar departement doen om te verseker dat skaars waterhulpbronne in die provinsie gedurende droogtetye effektief bestuur word.
“Net soos inwoners die verantwoordelikheid het om water spaarsamig te gebruik, rus die onus ook op die departement en munisipaliteite om te verseker dat, selfs in droogtetye, water aan inwoners beskikbaar is.
“Dit sluit onder meer in dat, waar nodig, waterbesparingsmaatreëls geïmplementeer word, maar ook dat die Vrystaatse regering en munisipaliteite verantwoordelikheid neem vir lekkasies weens stukkende pypleidings wat ‘n enorme hoeveelheid water verlore laat gaan.
“Waar dit wil voorkom of die Kaapstadse metroraad nie behoorlik voorsiening gemaak het vir watertekorte nie en krisisbestuur daartoe gelei het dat inwoners nie net water moet bespaar nie, maar ook nou meer moet betaal vir die gevolglike verlies aan waterinkomste, wil die VF Plus toesien dat dieselfde lot nie die inwoners van Vrystaatse munisipaliteite tref nie.
“Die VF Plus wil weet wat ons owerhede doen om "Dag-Zero" in munisipaliteite in die provinsie te voorkom.
“VF Plus-raadslede in die provinsie sal ook vrae hieroor by hul onderskeie munisipale rade indien om te verseker dat munisipaliteite hul grondwetlike verpligting om water aan inwoners te voorsien, nakom,” sê Wessels.
Kontaknommers: 082 490 6663