fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Ten spyte van vele beloftes het Lesufi nie alle leerlinge geplaas vir volgende jaar nie

Die VF Plus is nie verbaas om te verneem dat die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, nie daarin kon slaag om alle leerlinge vir die 2020-skooljaar te plaas nie.

Volgens ‘n twiet wat Lesufi self gestuur het oor die naweek, het hy aangedui dat daar meer as 400 kinders is wat nog nie geplaas is nie.

Luidens ‘n berig in Maroela Media is daar heelwat Afrikaanse leerlinge van Danville, Pretoria, wat nie plek kon kry in die Laerskool Westerlig nie. Dit is die enigste Afrikaanse skool wat nog bestaan in Danville, maar is reeds oorvol en kan nie nog leerlinge inneem nie.

Die ander skool in Danville, Laerskool Generaal Beyers wat eers ‘n Afrikaanse skool was, neem nie meer Afrikaanse leerlinge in nie.

Dit opsigself is ‘n aanduiding van Lesufi se swak beplanning deurdat hy nie genoeg nuwe skole gebou het waar dit nodig is nie en voormalige Afrikaanse skole soos die Laerskool Generaal Beyers omvorm het tot ‘n Engelstalige skool.

Lesufi se gesentraliseerde plasingstelsel funksioneer ook nie behoorlik nie en leerlinge word wesenlik benadeel wat ‘n menseregte-vergryp is. Die Suid-Afrikaanse Grondwet stel dit baie duidelik dat die belange van minderjarige kinders voorop gestel moet word – insluitend hul reg tot onderrig.

Die VF Plus gaan eis dat Lesufi wel alle leerlinge plaas ongeag hul taalagtergrond. Die party sal ook ondersoek instel na die situasie in Danville waar leerlinge nog nie geplaas is nie en sal eis dat die Laerskool Generaal Beyers weer Afrikaanse klasse aanbied om hierdie leerlinge te akkommodeer.

Die Laerskool Westerlig kan nie gedwing word om nog leerlinge in te neem nie, maar dié Engelse skool wat voorheen Afrikaans was, moet weer Afrikaans as onderrrigtaal instel.

Inwoners van Danville beskik in die algemeen nie oor die finansiële vermoë om hul kinders ver te laat reis om ander Afrikaanse skole buite hul omgewing by te woon nie.

Hierdie is weereens ‘n bewys dat Lesufi met al sy idees en beplanning die publiek probeer paai, maar eintlik nie kan lewer wat hy belowe nie en eerder by Afrikaanse skole inmeng om hulle te verengels soos wat by die Laerskool Generaal Beyers gebeur het.

Die VF Plus sal toesien dat alle leerlinge wel geplaas word in die skool van hul keuse om sodoende onderrig te ontvang in hul moedertaal.

Kontaknommer: 082 391 3117

 

 

 

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.