fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Swak finansiële bestuur veroorsaak dat Vrystaatse munisipaliteite nie salarisverpligtinge nakom

Daar is verskeie munisipaliteite in die Vrystaat, onder meer die Kopanong-, Mohokare- en Mafube-plaaslike munisipaliteite wat nog geen salarisse vir Mei betaal het nie. Dit lei tot stakings en ʼn algehele tekort aan dienslewering in hierdie munisipaliteite.

Jaarliks word onbefondsde begrotings deur ANC-beheerde munisipale rade goedgekeur. Hierdie begrotings maak nie genoegsame voorsiening vir die betaling van bedryfsuitgawes soos salarisse vir die betrokke boekjaar nie. Dit veroorsaak dat salarisse teen die voorlaaste en laaste maande van die boekjaar nie betaal kan word nie.

Die wanbestuur van munisipale-salarisrekeninge en die onvermoë om behoorlike finansiële beplanning te doen, veroorsaak dat daar elke maand geskarrel word om fondse bymekaar te skraap vir die betaling van salarisse.

Hierdie munisipaliteite gebruik dan regeringstoelaes, soos die munisipale billike aandeel, om salarisse te betaal tot nadeel van dienslewering in die munisipaliteit.

Sommige munisipaliteite, soos die Kopanong-plaaslike munisipaliteit wat verskeie dorpe in die Suid-Vrystaat bedien, het ten spyte van ʼn onbefondse begroting selfs bykomende verhogings en personeelaanstellings goedgekeur.

So is ʼn konstruksievoertuig-bestuurder teen R30 000 per maand aangestel terwyl geen konstruksievoertuie deur die munisipaliteit besit word nie.

In die meeste van hierdie munisipaliteite, soos die Mafube-plaaslike munisipaliteit (Frankfort, Villiers, Cornelia, Tweeling) moes sommige personeel lankal reeds afgetree het, maar is steeds op die betaalstaat omdat derdeparty-aftrekkings nie aan die betrokke derde partye, soos pensioen- en mediese fondse, oorbetaal word nie en hierdie werkers nie kan aftree nie.

Die ANC is net eenvoudig nie daartoe in staat om basiese finansiële beginsels en bestuur toe te pas nie.

Die mense van die Vrystaat verdien beter as die ANC.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.