Die VF Plus was een van die rolspelers wat daartoe bygedra het om van Pelgrimsrus weer ‘n groeiende toeristebestemming tot voordeel van al die inwoners van die streek te maak.
Dit ommekeer wat tot dusver in die dorp bewerkstellig is, dien as bewys dat langtermyn-politieke druk omstandighede in ‘n dorp wel van 'n byna rampspoedige ekonomiese situasie na 'n veel skoner en veiliger omgewing kan verander wat weer aantreklik kan raak vir toeriste.
Pelgrimsrus is ’n nasionale erfenisterrein in Mpumalanga en word bestuur deur die provinsiale departement van openbare werke, paaie en vervoer.
Dié mooi en gewilde dorp het lank agteruitgegaan weens wanbestuur. Danksy politieke druk van die VF Plus se kant en daaropvolgende openbare ondersoeke, is onder meer onwettige huurooreenkomste van ondernemings wat toeriste lok en wat 'n negatiewe impak op die werkstatus en finansiële welstand van die dorp gehad het, aan die kaak gestel.
Die VF Plus is nou meegedeel dat die laaste 22 van hierdie huurkontrakte onderteken is, en dat legitieme huurders nou van kontrakte vir termyne van tien jaar lank verseker is wat groot gemoedsrus bring vir die sake-eienaars en hul werknemers.
Hierdie sukses is ’n goeie voorbeeld oor hoe die regte bestuursbesluite en langtermyn-verbintenisse ‘n groot rol daarin gespeel het om van Pelgrimsrus weer 'n vooruitstrewende toeristebestemming te maak.
Getrou aan die VF Plus se kultuur van omgee sal die party die vordering op Pelgrimsrus noukeurig dophou om te verseker dat volgehou word met die goeie werk om aan die dorp sy eertydse glorie as toeristebestemming terug te besorg.
Kontaknommer: 084-652-9164